Subscribe by Email

Zuma weer gekap oor godsdiens

“Die Christen-Demokratiese Party (CDP) doen opnuut ‘n beroep op pres. Jacob Zuma om hom te weerhou van die maak van omstrede godsdienstige uitlatings vir politieke gewin,” sê ds. Theunis Botha, leier van die party.

“Ons meen sy blapse op hierdie terrein spruit meer uit pogings om godsdiens vir politieke gewin te misbruik as uit onkunde. Hy is immers al verskeie kere hieroor deur kerke oor die vingers getik en reggehelp.

“Tog, hy gaan onverstoord voort om dit te doen, en het nou selfs so ver gegaan om kerke op te roep op aan die ANC se eeufeesvieringe deel te neem asof dit hul eie is. Nog meer verontrustend is die wyse waarop hy dit laat klink asof hy die Christendom,Islam en voorvaderaanbidding as een godsdiens beskou – dus ‘n soort universele god.

“Oor die naweek het hy opnuut die ANC en God vergelyk, en dié keer gesê die ANC is soos God – gou om te luister maar stadig om te lewer. Zuma verwag seker nie om dié keer beskuldigings van godslastering vry te spring nie?

“Die CDP vind sulke pseudo-religieuse standpunte deur die regeringshoof onaanvaarbaar.”