Subscribe by Email

Zuma moet verskoning vra vir sy opmerkings oor Christenskap

AfriForum het die staatspresident se onlangse verwysings na Christenskap en die Bybel as uiters onsensitief beskryf en ’n beroep op die president gedoen om Christene om verskoning te vra. Dit volg nadat pres. Zuma tydens die bekendstelling van ’n padveiligheidsforum in KwaZulu-Natal na bewering gesê het dat die gebrek aan medemenslikheid in die gemeenskap (wat institusionele sorg vir weeskinders en bejaardes noodsaak) aan die koms van die Christendom en Bybel na Suid-Afrika toegeskryf kan word.

“Indien die president korrek in die media aangehaal is, getuig sy optrede van ’n persoon wat nóg kennis van Suid-Afrikaanse geskiedenis, nóg begrip vir sy landsburgers het,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum gesê. “Die bewering is feitelik verkeerd. Om sulke wilde stellings op lukraak wyse te maak, is onverantwoordelik en kan baie mense diep seermaak. ʼn Mens verwag dat ʼn staatspresident erkenning sal gee aan die positiewe bydrae wat gelowiges in hierdie land maak, eerder as om die skuld vir komplekse sosiale veranderinge voor die deur van die Christendom te probeer lê,” het Roets gesê.

In aansluiting het Roets bygevoeg dat kinderhuise en tehuise vir bejaardes noodsaaklike werk verrig om die gemeenskap te dien en Suid-Afrika ’n beter plek te maak. “Die goeie werk wat deur hierdie instellings gedoen word, verdien lof – die president se negatiewe kommentaar daaroor is ʼn skande,” het Roets bygevoeg.

AfriForum het onderneem om hierdie saak met die regering en die ANC op te neem.