Subscribe by Email

Zuma moet sê oor Malema by Afrikanergesprek

TLU SA het met absolute weersin kennis geneem dat die ANC Jeugleier, Julius Malema, sy omstrede voorganger, Peter Mokaba, se haatspraak dreunsang “Kill the Boer, kill the farmer” (“Shoot the boere, they are rapists”) aangepas het tydens ‘n optrede by die Universiteit van Johannesburg.  TLU SA neem met ewe veel weersin kennis dat die ANC as organisasie nog nie dissiplinêr hieroor teen hom opgetree het nie, in die lig daarvan dat dié slagspreuk reeds tot haatspraak verklaar is.  TLU SA se president, mnr., Ben Marais, vra of Malema, as die kroonprins van die ANC, dan nou bo enige moraliteit en bo enige reg verhewe is.  “Is die ANC strukture en hulle leiers bang vir die knaap wat nie net die organisasie skade doen nie, maar ook die land.  Hy kom telkens weg met enige omstrede, radikale, belaglike en nou ook walglike uitspraak.”

Mnr. Marais het daarop gewys dat die ANC-leier, pres. Jacob Zuma, ‘n aantal Afrikanerorganisasies, waaronder TLU SA, genooi het na ‘n gesprek met hom eerskomende Donderdag.  “TLU SA sal hierdie geleentheid wat mnr. Zuma geskep het, gebruik om hierdie saak op die tafel te plaas, en mnr. Zuma te dwing tot ‘n uitspraak en optrede rakende Malema se opruiende uitlatings.  Mnr. Zuma se antwoord en beoogde optrede sal dan ‘n aanduiding wees vir die boere, die land en die wêreld wat van die ANC in die toekoms verwag kan word.  TLU SA hou in so ‘n geval alle opsies oop om sy strategie daarvolgens te rig,” sê mnr. Marais.