Subscribe by Email

Zimbabwiese boere bring hofaansoek teen SAOG

Mike Campbell

TWEE Zimbabwiese boere aan heeltemal teenoorgestelde kante van die geskiedkundige drade van ras, agtergrond en ekonomiese stand, het gister al die staatshoofde van Suider-Afrika voor die hof gedaag om so gou moontlik die gesag en jurisdiksie van die SADC-tribunaal in Windhoek in ere te herstel, berig die Namibiese koerant, die Republikein.
Die saak, pas by die streekhof se griffier geliasseer, word op dringende gronde gebring en daag die besluit van SADC se jubileum-spitsberaad uit waarmee in Augustus verlede jaar opdrag gegee is dat die SADC-tribunaal geen nuwe sake mag verhoor totdat ’n hersiening van die hoogste geregtelike gesag in die streek se funksies afgehandel is nie.
Die aansoekers is die bekende mnr. Mike Campbell, wat voorheen in ’n waterskeidende grondhervormingsgeding saam met ander blanke boere uit Zimbabwe ’n geskiedkundige oorwinning teen die Mugabe-regering behaal het, en mnr. Luke Tembani, wat as een van die buurland se eerste swart kommersiële boere sy grond weens opgeblaasde skuld verloor het.
Hulle sal onder meer aanvoer dat die tydelike inperking van die Tribunaal se magte onwettig is en die reg op geregtigheid skend. Hofstukke voer aan dat SADC se spitsberaad sy verpligting verontagsaam om die streekhof te beskerm.
Volgens die aansoekers is hulle nou magteloos aangesien die Zimbabwiese regering – wat al geruime tyd die streekhof boikot – steeds weier om uitvoering aan bevele in hul guns te gee.
“Hulle lewens en die van duisende ander mense in soortgelyke omstandighede is in gevaar,” het mnr. Norman Tjombe, die bekende menseregteprokureur wat as plaaslike regsagent in die saak optree, gister gesê.
Die aansoek word ook gebring in die name van elkeen van die meer as 70 blanke boere in wie se guns die Tribunaal al in 2008 beslis het dat Zimbabwe se grondhervormingsbeleid op rassisme gegrond is en weens die verdere gebrek aan vergoeding vir onteiening beide die SADC-verdrag en internasionale reg skend, asook hul geviktimiseerde plaaswerkers.
“Die derde respondent het ’n openlike veldtog van uitdaging teen die Tribunaal se beslissings gevoer,” sê die bejaarde mnr. Campbell in sy eedsverklaring.
Ondanks die feit dat staatshoofde herhaaldelik versoek is om teen die minagting op te tree, is volgens hom eerder gekies om die twis dood te sloer. Volgens mnr. Campbell het SADC-leiers is slegte trou, arbitrêr en irrasioneel opgetree en reëls vir die hersiening van verdrae bloot verontagsaam.
“Die hoogste, internasionale liggaam wat wette in die streek moet beoordeel, is ernstig buite aksie gestel,” skryf mnr. Campbell.
Dit terwyl “kwessies oor vrede in die streek, konflikte tussen lidlande en growwe skendings van menseregte op enige tydstip kan opduik.”
Vier van die huidige regters van die Tribunaal se ampstermyne is midde die huidige tameletjie ook nie hernu nie. Dit sluit die president van die streekhof, Regter Ariranga Govindasamy Pillay van Mauritius, se kontrak in. Die boere vra vir die behoud van die regsprekers in hul posisies.
Namibië se President Hifikepunye Pohamba is tans die voorsitter van SADC. Die tweede en derde respondente is SADC se Raad van Ministers, waarvan dr. Hage Geingob aan die stuur staan, en die Zimbabwiese regering. Die partye het 30 dae om die saak teen te staan.
Die aansoekers sal ook die koste van die geding eis. SADC se ministers van justisie en prokureur-generaals vergader oor net meer as ’n week op Swakopmund om oor aanbevelings in verband met die moontlike hervorming van die Tribunaal te besin.
Hulle sal ’n verslag aan staatshoofde voorberei, wat waarskynlik eers in Augustus hopelik ’n finale besluit oor die regstameletjie sal neem. Onlangs is uit Zimbabwe berig dat daar in die aanloop na ’n moontlike verkiesing later vanjaar ’n hernude toename in geweld teen, en die teistering van die buurland se oorblywende blanke boere en hul werkers is.
Dani Booysen