Subscribe by Email

Zimbabwe se voedselhulp uit Zambië kom van onteiende wit boere uit Zimbabwe

Die nuus dat Zimbabwe vanjaar mielies uit Zambië moes invoer, was nie onverwags nie. In Januarie is aangekondig dat Zimbabwe weens laat reëns 35 % minder mielies as die vorige jaar geplant het. Altesaam 247 000 hektaar is geplant, terwyl ook effens minder van ander graansoorte soos sorghum geplant is. Die adjunk-minister van Landbou, Seiso Moya, het toe gemaan dat dit lyk of dit ‘n baie slegte jaar vir Zimbabwe sou wees. Die VN het toe $268 miljoen bymekaar probeer kry om tot 1,45 miljoen mense in Zimbabwe van kos te voorsien.

Die ontsteltenis het gekom toe ontdek is dat die leeue-aandeel van die 300 000 ton mielies wat uit Zambië as voedselhulp ingevoer is, deur wit boere geproduseer is wie se grond vroeër in Zimbabwe gegryp is.

Navorsing deur Ditsem Vrystaat het egter aan die lig gebring dat dit nou al etlike jare die geval was, en ook reeds ‘n ope geheim was.

Met die 2009 / 10-seisoen het die premier, mnr. Morgan Tsvangirai se kantoor aangekondig dat die mielieoes na verwagting 1,33 miljoen ton sou wees, sowat ‘n halfmiljoen ton te min vir die binnelandse aanvraag. Toe is ook aangekondig dat met Zambië onderhandel word vir mielie—invoere, en dat dié mielies deur boere geproduseer word wat in Zimbabwe van hul grond afgeskop is.

Een van die boere, Gerry Whitehead, is toe aangehaal dat 90 % van Zambië se mielie-oes deur boere geproduseer is wat alles in Zimbabwe verloor het.

Die onderhandelinge is ook deur Zambië se Hoë Kommissaris in Harare bevestig, wat voorts gesê het daar word ook onderhandel om koring, beesvleis en suiwelprodukte uit Zambië in te voer. 

Zimbabwe, eens Afrika se broodmandjie genoem, se produksie het sedert 2000, toe kommersiële boere se grond gegryp is, met die helfte afgeneem.

Omdat heelwat kosinvoere na Zimbabwe privaat geskied, is dit moeilik om algemene syfers oor voedselinvoere na die gewese kosmandjie te bepaal.

In 2010 is sowat 4 % van Suid-Afrika se uitgevoerde hoendervleis na Zimbabwe uitgevoer, wat ‘n druppel aan die emmer is van die 36 % wat na Mosambiek uitgevoer is. Selfs Nederland (5%) en Egipte (8 %) het meer hoendervleis uit Suid-Afrika ingevoer. 

In 2010 het Zimbabwe die invoer van beesvleis, varkvleis en pluimvee uit Suid-Afrika verbied weens siektegevare meer ook om plaaslike produsente te beskerm. ‘n Reuse tekort is toe voorspel. Zimbabwe se eie produksievermoë is in 2001 geskaad toe die Europese Unie die invoer van beesvleis uit Zimbabwe verbied het. Die afgelope twee jaar berig hoopvole Zimbabwiese media dat die EU moontlik die invoerverbod kan ophef.