Subscribe by Email

Zanufisering van Tukkies bereik kookpunt;

Die Universiteit van Pretoria (UP) het studenteleiers die afgelope week in oproer gehad toe ’n tydelike studenteraad aangewys is, terwyl die verkiesingsuitslae van verlede jaar se studenteparlementsverkiesing steeds teruggehou word, het AfriForum jeug vandag gesê.

“Die studenteraad is in die geheim aangewys sonder dat studente insae daarin gehad het. Daarbenewens het UP talle Sasco-lede in dié groep ingesluit in weerwil daarvan dat die vereniging die afgelope twee jaar geen verteenwoordiging op die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) kon verkry nie,” het Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

“Studente is omgekrap oor die wyse waarop UP ingee vir ANC-geaffilieerde verenigings soos Sasco en dring daarop aan dat die verkiesingsuitslae van verlede jaar bekend gemaak word. Wat aan die gebeur is, kan beskryf word as die Zanufisering van Tukkies, alhoewel Zimbabwe nie eens so lank geneem het om sy eie verkiesingsuitslae bekend te maak nie”, sê Oberholzer.

AfriForum Jeug het einde verlede jaar ’n hofaansoek gebring teen UP se besluit om nie die uitslae bekend te maak nie nadat die Universiteit ’n herverkiesing aangekondig het. Dié aankondiging van UP het gekom na afloop van ’n dreigbrief van die studenteorganisasie, Sasco. Volgens die brief sou Sasco die verkiesingsuitslae verwerp en die kampus “onregeerbaar” maak. Die rektor, prof. Cheryl de la Rey, het daarna die vryheid en regverdigheid van die verkiesing terugverwys na die studentedekaan, waarna die aankondiging van ’n herverkiesing gemaak is.

Die hofaansoek gaan op 17 Februarie in die Pretoriase landdroshof aangehoor word. Oberholzer sê dat AfriForum Jeug hoop om met dié hofsaak studente se stem aan hulle terug te gee en ’n legitieme studenteraad te konstitueer.

“Die UP is erg partydig teenoor ANC-geaffilieerde verenigings en dit het met die huidige studenteparlementsverkiesing-kwessie bloot ’n kookpunt bereik,” sê Oberholzer.

Alles dui daarop dat AfriForum Jeug se steun op die kampus na die afgelope verkiesing toegeneem het, terwyl Sasco se steun klaarblyklik gedaal het.