Subscribe by Email

Zambië: Betogers ontevrede oor partyhoof se afdanking

edgar Lungu

Onluste in Lusaka in Zambië gaan voort nadat die waarnemende president, Guy Scott die sekretaris-generaal van die regerende party afgedank het.

Die onluste het Maandagaand op verskeie plekke, insluitende die Universiteit van Zambië en ‘n regeringsgebou voorgekom.

Ondersteuners van Edgar Lungu het motors met klippe bestook en buitebande aan die brand gesteek waarna die polisie hulle uiteengejaag het.

Scott het Lungu afgedank kort na die dood van die president, Michael Sata. Lungu, wat steeds die minister van Verdediging en Justisie is, is in ‘n opvolgstryd gewikkel na Sata se dood. Volgens hom was sy afdanking onwettig en hy beskuldig Scott, wat van Skotse afkoms is, daarvan dat hy Zambië se “kultuur beledig”.

Daar word vermoed dat Lungu se afdanking deel is van ’n politieke gekonkel tussen die verskillende faksies

Scott is die eerste wit staatshoof in Afrika sedert apartheid. Hy was vroeër die land se adjunkpresident, en sal waarneem as president tot die verkiesing oor 90 dae.