Subscribe by Email

Yanks sweet en die wêreld gaan met kospryse betaal

Die afgelope week is 2 000 hitterekords in die VSA geëwenaar of verbeter, terwyl 3 200 rekords in Junie in die slag gebly het, aldus die Amerikaanse National Oceanic and Atmospheric Administration.

Hoewel weerkundiges nog kopkrap oor sommige van die redes vir die ongewone hitte, word ‘n deel van die oorsaak voor die deur van die min sneeu die afgelope winter gelê. In plaas daarvan dat die son sneeu gesmelt het, het dit die grond warm gebak.

Oeste het vinniger begin groei, maar word nou deur die min reën gekniehalter. Graanpryse het reeds skerp begin styg, wat vir die wêreld implikasies inhou omdat die VSA die grootste uitvoerder van mielies, koring en soja is. Altesaam 22 % van die mielie-oes word as in ‘n swak toestand beskryf. Mieliepryse het sedert die middel van Junie reeds met 30 % gestyg.Soyapryse het reeds tot die hoogste vlakke sedert 2007 / 08-seisoen gestyg toe daar ‘n wêreldwye kostekort was. Boonop het ‘n droogte die sogenaamde Latyns-Amerikaanse sojagordel van Argentinië, Brasilië, Uruguay en Paraguay ‘n maande gelede getref.

Die hitte sal na verwagting nog ‘n paar weke duur.

Die Ooskus en die Noordweskus word nie deur ongewoon warm weer geteister nie, maar die res van die land wel, waar reuse bosbrande in verskeie state groot skade aangerig en selfs menselewens geëis het.

Altesaam 18 mense is sedert Vrydag in woeste storms en die hitte dood, terwyl nog meer as 2 miljoen mense gister sonder krag was na die storms die kragnetwerke beskadig het. Nog storms word vir die Suidweste voorspel.