Subscribe by Email

WP berei voor vir Curriebeker-halfeindstryd

Seabelo+Senatla

Robbie Fleck, Westelike Provinsie se agterlyn-afrigter het Dinsdag gesê dat die Blitsbokke Seabelo Senatla en Justin Geduld eers Donderdag op die oefenveld sal wees.

Hy glo Senatla en Geduld wat die naweek in die Internasionale Rugbyraad se sewestoernooi in die Goudkus in Australië gespeel het,  sal maklik inskakel.

Die verwagting is dat Senatla as linkervleuel gaan begin, terwyl Geduld op die plaasvervangersbank kan wees as die WP gemaklik is om hom met ‘n gebreekte neus te laat speel.  Indien nie, sal die 19-jarige EW Viljoen moontlik ingesluit word.

Fleck het bygevoeg dat daar Donderdag duidelikheid sal wees of Jaco Taute voldoende van ‘n ribbesering herstel het om as binnesenter te begin.  Dis egter onwaarskynlik en dit word verwag Mikey van der Spuy sal heel moontlik die nr.12 trui dra.

Fleck het gesê hy was baie ingenome met Mikey se vertoning oor die naweek teen die Haaie.  Fleck het van der Spuy as ‘n werkesel beskryf en bygevoeg dat hy ‘n baie goeie spelskepper kan wees. “Hy’s ‘n bestendige speller, spanman en klipharde werker. Dis wat ons van hom hou.”