Subscribe by Email

Word Afrikaners mislei? En deur wie?

Die afgelope Saterdag, in By van Nasionale Pers, beskuldig Adriaan Basson, assistent-redakteur van City Press Afriforum daarvan dat hierdie organisasies die Afrikaner mislei, en wil sommer ook weet hoekom.

Dieselfde dag het die Volkstaatverkiesingskommissie ‘n volksraad verkies en na aanvanklik 100 000 stembriewe gedruk is, moes nog 50 000 inderhaas gedruk word. Presies hoeveel nuus het City Press oor hierdie verkiesing gedra?

Die bedoeling hier is nié om die vinger te wys na iemand wat skuldig sou wees, of selfs deel van ‘n komplot sou wees om die Afrikaner te ondermyn nie. Ook nie om te oordeel hoe verteenwoordigend die Volkstaatverkiesingskommissie se verkiesing onder Afrikaners, en selfs volkstaatgesinde Afrikaners sou wees nie.

Grondliggend aan die vingerwysing wat nou plaasvind, is die aanloop en die uitspraak van regter Collin Lamont in die Malema-haatspraakverhoor.

Toe Afriforum, die TLU SA, die Afrikanerbond en sowat 500 ander instansies en individue Malema aanvanklik vir haatspraak gaan verkla het, was dit op die oog die oog af ‘n simplistiese handeling.

Vroeër het die Menseregtekommissie, weliswaar na hierdie instelling effektief tot ‘n appèl gedwing is, “Kill the Boer, Kill the farmer” tot haatspraak verklaar. Die ANC wat die bevinding aanvanklik teengestaan het, het hom by die uitspraak berus, maar daarna “opgemaak” deur die voorsanger hiervan, wyle Peter Mokaba te vereer, onder meer om een van die wêreldbekersokkerstadions na hom te vernoem.

Nou sing Malema ‘n liedjie, en dis veral die woorde: “Skiet die boere / Boere” wat aanstoot gee. Die proses word min of meer herhaal.

Dié keer was die reaksie dikwels anders, selfs na die uitspraak. Van die kritici van die uitspraak gaan ook baie wild met die waarheid om, soos om te ignoreer dat dié liedjie reeds deur ‘n interdik aan die ban gedoen was. Verskillende regsvertakkings word erg deurmekaar geklits om by standpunte te kom soos dat dit onuitvoerbaar sou wees. ‘n Mens kan jou maar die chaos indink as na analoog gemeen word die wetlike verbod op verkragting is onuitvoerbaar en moet daarom maar toegelaat word. Of kinderverwaarlosing.

Nog ‘n stukkie juridiese akrobasie is om te ontken dat die Afrikaner ‘n kwesbare minderheid is. Diegene wat hierdie menings huldig, is byna sonder uitsondering diegene vir wie die meetsnoere in mooi plekke geval het. Wanneer geweeg word of die Afrikaner kwesbaar is, word te maklik na die Ruperts gekyk en te moeilik na hulle wat in die buiteland moet werk om ‘n gesin tuis te onderhou, of hulle wat in die sogenaamde wit plakkerkampe woon. In bykans elke sogenaamd swart plakkergebied in die land woon ook nou wit gesinne. Word bruin mense wat hulself as Afrikaners beskou ingesluit, lyk die prentjie nog meer beroerd. Afriforum word selfs daarvan beskuldig dat dit ‘n suiwer numeriese sommetjie maak om die Afrikaner as minderheid te tipeer. So ‘n argument verdien werklik nie ernstige kommentaar nie.

Die vreemdste is egter dat die grootste kritici op die saak ook die grootste aanhangers van die huidige grondwet is – in dié sin dat hulle van leemtes of selfs potensiële leemtes in die grondwet niks wil weet nie. Daar moet net, aldus Max du Preez, hard gewerk word om dit toe te pas. Maar as dit presies is wat Afriforum en die ander klaers in die Malema-saak doen, is dit ook nie reg nie.

Dan wil hulle, soos die regter self aangedui het, dat die saak buite die hof beslis word. Geen hof kan immers ‘n paartjie wat op skei staan deur ‘n hofbevel verplig om te versoen nie.

Hierdie kritici vergeet gerieflik dat Afriforum by herhaling hierdie koers wou inslaan. Dit is oor ‘n wye front deur die ANC, die ANC-jeugliga en Sasco minagtend van die tafel gevee. Selfs tydens die hofsaak was Afriforum bereid, mits dit nie die verloop van die hofsaak sou affekteer nie – ‘n heel verstaanbare vereiste in ag genome dat Afriforum reeds soveel keer met die kluitjie in die riet weggestuur is, dat ‘n afstaan van die hofsaak as ‘n moontlike vertragingstaktiek of ontsporing van die kwessie beskou kon word.

Daar is egter ook ‘n wyer konteks. Die ANC, en veral die ANC-jeugliga, begin al hoe meer soos oorwinnaars optree en uitsprake maak asof dié instansie die gewapende stryd gewen het. Die werklikheid is dat by ‘n onderhandelde skikking gekom is na ‘n vredesakkoord gesluit is.

Dit vind nie net in haatspraak neerslag nie, maar in pleknaamsveranderinge waar die skikking juis vir ‘n model van versoening voorsiening gemaak het.

Kortom, hoe meer swak regeervermoë begin boemerang, hoe meer word op ‘n verbeelde oorwinning teruggeval en geroem. Dit opsigself het noodwendig ‘n teenreaksie onder die sogenaamde verslaande groep tot gevolg, veral as die weerwraak-uitsprake nog aan die tweede en derde geslag ook gerig word, met aanduidings dat selfs die spreekwoordelike duisendste geslag nog sal moet kruip en ly.

Polarisasie teen dié agtergrond is nie ‘n verrassing nie. Dis ‘n gegewe. Die spreekwoordelike opskeur van ‘n vredesakkoord is ook nie sonder gevolge nie. Of dit die regstegniese terugkeer na die konfliksituasie beteken is kwalik die punt – die ANC en ander se reaksie op die Lamont-uitspraak en die aankondiging van appèl het ‘n stroom internetkommentaar tot gevolg gehad – van diegene wat gereed vir die gewapende stryd is, tot diegene wat finaal moed met die land verloor het.

Die regspraak, in die besonder administratiewe reg, moet die beginsel van natuurlike geregtigheid ondervang. Dit moet orde, eerder as chaos skep, dit moet harmoniseer eerder as polariseer. Dit moet pragmatiese staatsregtelike opsies bied. Wanneer vryheid van uitdrukking buite orde raak, kan veilig aanvaar word dat dit die perke van die mees fundamentele regte oorskry word.

Die Nederlandse koerant Trouw het vroeër vanjaar ‘n skryfkompetisie aangebied met die tema: “Stop die vryheid.” Dit het ‘n weersin verwoord in die tipe vitrioel en smerighede en ongebreidelde monduitspoelery oor ander wat oor tyd ontwikkel het oor die slae wat dit aan die waardigheid van ander aangerig het. Omdat dit dikwels naamloos is, is dit baie dikwels nog blatante leuens ook waarmee karaktermoord gepleeg word. Boonop sluit die Romeins-Hollandse regstelsel iets wat vaagweg met selfbeeld beskryf kan word, by waardigheid in – ‘n reg wat ook in die handves van menseregte beskerm word.

In dié land is ‘n grootse poging nodig om die reg om te weet te beskerm om enige kans te staan om korrupsie hok te slaan. Hierdie reg is baie vervleg met die reg op meningsuiting. Deur nou die reg op uitdrukking by alle grense van fatsoenlikheid verby te dryf, sal die reg wat die impak daarvan moet teenwerk sterker aanhang kry, en uiteindelik kan die land beide verloor.

Herman Toerien