Subscribe by Email

Werkloses sal in 2013 met meer as 5 miljoen toeneem – ILO

Die aantal werkloses wêreldwyd sal in 2013 met 5,1 miljoen toeneem, en die totaal sal op 202 miljoen neerkom, aldus die VN se Internasionale Arbeidsorganisasie, ILO. In 2012 het die werkloses met 4 miljoen toegeneem.

‘n Kwart van die werkloses is in ontwikkelde lande soos die VSA en Europa.

Die ILO meen die krisis in die Eurosone sal in 2013 die grootste bedreiging vir die wêreldekonomie inhou. Die krisis veroorsaak ‘n afname in vraag, ‘n afname in investering en ‘n stadiger groei in werksgeleenthede.

Die ILO meen Europa moet dringend sy ekonomie “heraanskakel.”

Voorts moet banke hulle op hul taak as “loopbaanmasjiene” fokus deur onder meer lenings toe te staan vir beleggings veral in die kleiner bedrywe.

Voorlopig meen die ILO sal dit in 2014 beter geen met ‘n verlies van “slegs” 3 miljoen werksgeleenthede.

Vroeër het die ILO is sy voorlopige verslag gesê die stadige groei van 2,2 persent in die wêreld se BNP sal ontwikkelde lande onder druk plaas met investering in dienste soos onderwys, gesondheid en sanitasie.

Afrika as geheel se ekonomiese uitset sal in 2013 met 4,8 persent groei teenoor 5 persent die vorige jaar. Die groei is veral te wyte aan die groeiende olie-uitvoere van ‘n aantal Afrikalande, investering in infrastruktuurprojekte en die groeiende ekonomiese bande met Asiatiese ekonomieë.

Tog bly Afrika wat werkloosheid betref ‘n bron van kommer, terwyl die kwaliteit van baie werksgeleenthede ook veel te wense oorlaat. Arbeidsonrus is ‘n groot demper op die skep van werksgeleenthede weens die risiko’s wat dit vir beleggers inhou.
Herman Toerien