Subscribe by Email

Wêreldwetenskapdag

Suid-Afrika het onlangs die laagste posisie uit 66 lande wat deur die Wêreld-ekonomiese Forum gemeet is, vir wiskunde- en wetenskapsonderrig behaal. Dit spreek vanself dat Suid-Afrika alles in sy vermoë moet doen om dié situasie te verbeter.

Saterdag 10 November is Unesco se Wêreld-Wetenskapdag vir Vrede en Ontwikkeling en Sondag begin die VN se Internasionale Week vir Wetenskap en Vrede.

Hierdie geleenthede se datumkeuses maak dit moeilik vir die suidelike halfrond om behoorlik mee te doen omdat dit nou vir baie in die middel van eksamens val. Suid-Afrika se eie Wetenskapsweek is vanjaar van 30 Julie tot 4 Augustus aangebied, wat ‘n veel geskikter tyd was.

Maar kan Suid-Afrika werklik bekostig dat die geleenthede wat nou plaasvind, basies stil-stil verbygaan?

Die temas toon ook duidelik dat wetenskap nie in isolasie staan nie – dit moet ter wille van doelwitte ontwikkel word, en dié doelwitte moet nie iets soos oorlog en massavernietiging wees nie.

Saterdag se tema is: “Wetenskap vir volhoubaarheid, onderlinge verbondenheid en samewerking.” Volgende week se doel is om die toepassing van wetenskap as middel om tot vrede by te dra beter te verstaan.

Wetenskap word egter ook soms verdag gemaak, en deur ekstremistiese geloofsbeoefenaars as ‘n bedreiging vir godsdiens voorgehou. Emeritus ds. Fanie Coetsee het onlangs in die GKSA se Die Kerkblad geargumenteer dat dit nie so behoort te wees nie. Hy verwys na God se twee openbaringswyses – Gods Woord / die Bybel, en God se skepping, die wetenskap. Dit kan nie teen mekaar staan nie.

Tog is ‘n onverkwiklike debat aan die gang waar ekstremiste uit die wetenskapswêreld (die rasionele wêreld), en ekstremistiese godsdienstiges, (die geloofswêreld), mekaar verguis en absoluut uit die ander se veld probeer uitsluit.

Ds. Ockie van Schalkwyk skryf in die jongste uitgawe van die NH Kerk se e-Hervormer onder meer soos volg: Gelowiges word deur die ‘rasionele’ kamp gebrandmerk as irrasioneel. Daar word in abolutes geredeneer, en mitevorming vind plaas… Die ekstremistiese eksponente aan die geloofskant van die kloof is net so fanaties. Hulle bevestig ironies genoeg met hul optrede die mitiese karikatuur van gelowiges wat deur ongelowiges geskep is. Hulle teiken egter self nie ongelowiges nie, maar wel gelowiges wat nie in die karikatuur pas nie. Indien jy nié in absolutes dink nie, is jy nie ’n gelowige nie, en behoort jy die eerbare ding te doen, die kerk te verlaat en te erken dat jy eintlik nog al die jare ’n ateïs is!”

Die land het sy wetenskaplikes nodig, en nog meer van hulle om sy groeipotensiaal te kan ontwikkel. Die behoefteveld is groot, waaronder die aanpassing van gewasse om beter by veranderende klimaatsomstandighede aan te pas en terselfdertyd groter opbrengste te kan lewer.

Deurbrake op die gebied van groen energie is deurlopende nodig, en die mediese wetenskap stel groot eise.

Dit help egter weinig as Suid-Afrika voldoende getalle wetenskaplikes oplei en hulle word effektief uit die land gedryf. Rasbegunstigde bevoordeling by aanstellings en bevorderings, laboratoriums en toerusting wat verouderd raak of gebreek of gesteel en nie vervang word nie, swak salarisse en gelowige wetenskaplikes wat deur ekstremiste voortdurend beledig word – alles dra by tot die uittog van wetenskaplikes.

Deur die wetenskap kan die wonder van die Skepping verder in verwondering ontvou.

Herman Toerien