Subscribe by Email

Wêreldbeker: Een bult te veel vir SA-stertkantkolwers

As is ver brande hout, en die Proteas is kous oor die kop huis toe gestuur.
Leunstoel-beterweters sal daar nou volop wees, en van die tong-uitstekery is ook nie sonder meriete nie.
Die eerste vraag is waarskynlik hoe die IKK soveel baanblaaie die groen lig kon gee wat duidelik nie geskik vir ‘n toernooi soos hierdie was nie. Selfs die beste kolwers kon op verskeie van die blaaie nie hul oog ingekolf kry nie, en uiteindelik het geluk ‘n groter aandeel, en vaardigheid ‘n kleiner, geneem uit die toernooi as wat dit moes.
Veral spanne soos Engeland en Australië waar swak kolfblaaie nie geduld word nie, se spelers het noustrop getrek. Die ander kant van die munt was dat die toernooi interessanter was met meer van die minder geroemde lande, soos Bangladesj, Ierland en Nederland wat in stadiums die stem kon dik maak – maar ook net so maklik kanonvoer geword het as die loot verkeerd geval, of die gelukskoot aan die ander kolf was.
Met Albie Morkel wat die 100-talle plaaslik ingeryg het sal sy ondersteuners weer vra hoekom hy nie saam gaan toer het nie. Die senior spelers, AB de Villiers en in ‘n mindere mate Hashim Amla uitgesonder, kom weer met reputasies van chokers terug. Dit lyk werklik of die keurders gedobbel het dat óf die senior spelers in die vroeë kragspelfases die lopies vinnig sou laat rol, of dat die laer orde elke keer sou slaag om die agterstande in te haal. En hoewel die laer orde waarskynlik in dié opsig goed oorpresteer het, was dit ‘n gegewe dat dit nie elke keer sou kon gebeur nie. Uiteindelik, toe dit saak gemaak het en op ‘n blad wat algaande meer onvoorspelbaar geword het, was dit te veel.
Uiteindelik het die krieketringkoppe strategies te veel aan die onwaarskynlike oorgelaat.
En dan die asse: As Amla nie van ‘n frats uit is nie, as AB nie in ‘n oomblik van waansin uitgehardloop is nie. As Morné van Wyk gespeel en vroeg as mokerman ingestuur was… Maar die enigste “as” in krieket wat werklik saak maak is die Asse waarom Engeland en Australië meeding.