Subscribe by Email

Wêreld se oudste vrou sterf

Die persoon wat bewysbaar die oudste persoon ter wêreld was, die 116-jarige Besse Cooper, is Woensdag in die Amerikaanse deelstaat, Georgia, oorlede. ‘n Kleinkind het die aankondiging kort na haar dood op Besse se facebookblad bekend gemaak. Die blad word deur boodskappe van meegevoel oorval.

Besse het in Januarie vanjaar “amptelik” die oudste persoon ter wêreld geword, maar in Mei het die Guinness Book of Records vasgestel dat Maria Gomes Valentin, van Brasilië 48 dae ouer as die Amerikaner was. Maria is in Junie oorlede en Besse het haar “titel” herwin.

Guinness erken net die ouderdomme van mense wat dit dokumentêr kan bewys, soos met geboortesertifikate. In September vanjaar is die Rus, Magomed Labazanov, in die Kaukasiese dorp Serebryakovka oorlede. Hy was vermoedelik 122 jaar oud. Die Kaukasiese streek is bekend vir die hoë ouderdomme wat mense behaal, maar hulle is hul geboortesertifikate kwyt tydens Stalin se gedwonge verskuiwings.

‘n Kubaanse vrou, Juana Bautista de la Candelaria Rodríguez, maak daarop aanspraak dat sy 127 jaar oud is. Ook haar identiteitsdokument dui dit as haar ouderdom aan, maar haar aanspraak word nietemin nie geglo nie omdat bewysbare dokumentasie nie bestaan nie, en sy steeds met bietjie hulp self kan loop.