Subscribe by Email

Wêreld in ‘n neutedop

Doodsdreigemente oor Poetin

Jong ondersteuners van ‘n Russiese punk-rockgroep beweer hulle kry doodsdreigemente. Die drie vroulike lede van die punkgroepe is aangekla nadat hulle ‘n ‘n katedraal ‘n “punk-gebed” gesing het waarin hulle gevra het dat die Maagd Maria van die Russiese president, Vladimitr Poetin, ontslae raak.

Mynramp in DRK eis baie

Minstens 6o mense het omgekom in ‘n ondergrondse rotsstorting in ‘n goudmyn in die noordooste van die DRK.

Die gebied word deur rebelle beheer. Die inwoners is brandarm en wend hulle tot kleinskaalse, maar gevaarlike mynbou.

Grondverskuiwings dodeliker as voorheen gemeen

Veel meer mense kom jaarliks in grondverskuiwings en modderstortings om as wat voorheen gemeen is. Tussen 2004 en 2010 het sowat 32 000 mense in aardverskuiwings omgekom. Dit is veel meer as die tussen 3 000 en 7 000 wat voorheen beraam is, sê die navorsers van die Britse Universiteit van Durham wat die navorsing gedoen net.

Die streke wat die ergste deurloop is die Himalajastreke, China en sentraal en Suid-Amerika.

Moesonreëns is die grootste oorsaak, maar ontbossing en die neiging tot digte bewoning in gevaargebiede dra ook tot die probleem by.

Sirië: Beide partye skuldig aan oorlogsmisdade

Die Siriese regering en die rebelle maak hulle aan oorlogsmisdade skuldig, luidens die VN se Siriese kommissie vir menseregte. Die verslag meen die Siriese regering is vir die grootste gros van die oortredings verandwoordelik.

Intussen is berig dat Siriese vliegtuie ‘n dorpie in rebellebeheer onder die bomme gesteek het, en minstens 30 mense dood is.

Gebruik Boko Haram Duitse wapens?

‘n Ligte storm het losgebars nadat dit aan die lig gekom het dat die Boko Haram, wat kerke en Christene in Noord-Nigerië aanval, glo van Duitse wapens gebruik maak. Op ‘n parlementêre vraag oor of Duitsland aan die Libiese regering van Moammar Ghaddafi verskaf het, en indien nie, hoe die wapens anders in die hande van Bobo Haram beland het, is deur die regering beantwoord dat dit vertroulik is.

Kernramp laat vlinders muteer

Navorsers van Japan het vasgestel dat vlinders naby die Fukushima-kernramp mutasies ondergaan het.

Die vlinders van die Asiatiese Bloutjie was tydens die ramp in hul larwestadium. Hulle is met voorbeelde van elders in Japan vergelyk, en daar is vasgestel dat hulle kleiner vlerke en beskadigde oë het.

Die navorsers het vervolgens verder met hulle geteël en toe ander defekte, soos misvormde antennas waargeneem.

Die Navorsers meen dit kan ‘n kombinasie van faktore wees soos die oordrag van genetiese mutasies en die inneem van radioaktief-besoedelde kos.

Hulle waarsku dat nie te veel nou van die navorsingsresultate afgelei moet word nie, aangesien die bestraling nie noodwendig ‘n soortgelyke uitwerking op mense sou hê nie.

Die resultate van die navorsing is in die vaktydskrif, Scientific Reports gepubliseer.

“Berg” radioaktiewe afval in België veroorsaak ontsteltenis

Kort na die Vlaamse koerant, De Standaard, onthul het dat ‘n “berg” radioaktiewe materiaal op die terrein van ‘n bankrot Amerikaanse firma in die dorp Fleurus agtergelaat is, is vasgestel dat die nasionale kernwaghond, NIRAS, al ‘n jaar en ‘n half lank daarvan bewus was.

Die firma, Team Best, spesialiseer in die vervaardiging van kerntoerusting vir die mediese en industriële sektor.

Volgens NIRAS is reeds begin met die proses om die probleem op te ruim. Alles is nou reeds in veilige houers geplaas, en dit sal nou vir uiteindelike verbranding geprosesseer word. Dit sal sowat sewe jaar duur.

NIRAS sê administratiewe prosesse het hulle verhinder om gouer werk van die kernafval te maak.

Die versekering is gegee dat die kernafval geen gevaar vir iemand inhou nie.

Gewigtige en getande sake in Amerika…

Die Amerikaanse staat Mississippi het die vetste mense, en Arizona het die meeste haaie gehad.

Nie net het Mississippi persentasiegewys die meeste vet mense in die VSA nie, die persentasie mense wat as “tegnies vet” beskou word, het in 20 jaar meer as verdubbel – van 15 % in 1991 tot 35 % nou.

Benewens die lekker kossies kry kulturele opvattings ook die skuld vir dié mense se stywe gordels.

Nog vreemder nuus uit die VSA is egter dat die droë Arizona, eens ‘n paradys vir haaie was. Sowat 270 miljoen jaar gelede, voor die dinosourusse verskyn het, was daar ‘n binnelandse see in Arizona. Hoewel baie uiteenlopende haaispesies met opgrawings geïdentifiseer is, het ‘n wetenskaplike nou eers drie spesies in ‘n wetenskaplike artikel in Historical Biology beskryf.

Die kleinste soort het ongeveer ‘n meter lank geword, ‘n ander sowat 2 meter lank, en die grote was ‘n bielie van langer as 6 meter.

Die wetenskaplikes meen veral die groter spesies het intensief jag op ander haaie gemaak.

Die groot verskeidenheid spesies word toegeskryf daaraan dat haaie destyds ook die “nismark” vervul het van wat ander vissoorte en selfs soogdiere soos dolfyne vandag vervul.