Subscribe by Email

Wêreld in ‘n neutedop

 

Einde van die wêreld-feeste: Argeoloë in opstand

 

Volgens die Mayakalender is 21 Desember vanjaar die einde van ‘n era, maar in die oë van verskeie kultusse beteken dit net een ding: dis die einde van die wêreld!

 

Die gevolg is ‘n toeloop na Meksiko se argeologiese skatte, en of ‘n piramide of tempel nou Maya, Tolkteeks, Asteeks of Olomeeks is, dit maak nie saak nie, dit deug vir rockkonserte en New Age saamtrekke om die komende einde van die wêreld te vier…of wat ook al.

 

Die argeoloë is in opstand, en reël protes- en boikotaksies, want met die feesvieringe word daar nie veel van gedink om gate in die antieke strukture te boor om beligting vir konserte aan te bring nie.

 

Die argeoloë beskuldig die owerhede wat dit toelaat van korrupsie en inhaligheid. Volgens Meksikaanse wetgewing mag die argeologiese skatte nie versteur word nie.

 

Vroeër vanjaar het argeoloë ‘n tweede Maya-inskripsie gevind wat na 21 Desember vanjaar verwys, en hoewel dit nie aan die groot klok gehang is nie, en terselfdertyd baie klem gelê is op die verduideliking dat dit nié die einde van die wêreld beteken nie, het dit nie diegene wat met die gedagte op loop is gestuit nie – en nog minder plaaslike en federale regeringslui wat die geleentheid raakgesien het om nog meer uit toerisme te maak.

 

Nog voor die “einde van die wêreldgier” losgebars het, was Mexiko reeds ‘n gewilde toerismeland. In 2010 het die aantal buitelandse toeriste reeds tot 22 miljoen gestyg.

http://www.washingtonpost.com/world/the_americas/controversy-in-mexico-over-changes-to-and-use-of-mayan-palaces-aztec-pyramids/2012/08/28/e1c8861a-ee1a-11e1-b0eb-dac6b50187ad_story.html

 

Duisende mense verdwyn deur staatsoptrede – UNPO

“Duisende mense verdwyn deur gedwonge staatsoptrede – van Chili tot Oos-Timor,” sê die sekretaris-generaal van die Unrepresented Nations and Peoples Organisation, UNPO, Marino Busdachin.

 

Hy het gereageer op gister se internasionale dag vir gedwonge verdwynings.

 

Busdachin het nie ‘n geraamde syfer verskaf vir die aantal mense wat wêreldwyd verdwyn het na hulle deur die owerheid aangekeer is nie, maar veral die vinger na Pakistan en China gewys. In Balochistan, ‘n deel van Pakistan wat veral deur ‘n minderheid bewoon is, het Buschadin beweer ‘n duisend aktiviste, joernaliste en regsgeleerdes is nou op dié manier aangekeer en vermoor. Hy wys daarop dat Pakistan se hoogste hof die weermag verantwoordelik hou vir 95 persent van die gevalle. Hy sê daar word soortgelyk teen Sind-aktiviste opgetree.

 

Wat China betref, hou hy die regering verantwoordelik vir “duisende Tibettane en Oegare” wat  verdwyn het.

 

Veilige sones vir Siriese vlugtelinge?

Pres. Bashar al Assad stel klaarblyklik nie in enige ander oplossing as ‘n militêre oorwinning belang nie.

 

Dit blyk uit ‘n onderhoud met ‘n pro-regerings- TV-stasie.

 

Assad het in die ondershoud gesê dat hy meer tyd nodig het om die rebelle te verslaan, en dat hy ‘n oorlog in die binneland en buiteland veg.

 

Hierdie uitlating van Assad sal ook Turkye en Jordanië se toenemende druk op die internasionale gemeenskap vir “veilige sones” aan hul grense, maar binne Sirië, erg kompliseer.

 

Beide Turkye en Jordanië huisves reeds duisende vlugtelinge, en beide het aangedui dat hulle hul perk bereik het. Nog sowat 200 000 vlugtelinge sal na verwagting binne die afsienbare toekoms teen ‘n tempo van 5 000 per dag na Turkye probeer vlug.

 

Hulle dring dus daarop aan dat sones binne Sirië self geskep moet word waar vlugtelinge veilig en versorg sal wees. Dit impliseer ook dat die internasionale gemeenskap, soos die VN of Navo, betrokke moet raak omdat Turkye en Jordanië aangedui het hulle kan nie alleen die kostes dra nie.

 

Turkye kan van eerstehandse ervaring praat, soos die opvang van Koerdiese vlugtelinge wat uit Irak voor Saddam Hoessein gevlug het. Nie alleen het Turkye met ‘n rekening opgesaal gesit nie, maar die hele Koerdiese kwessie bly in Turkye self ‘n brandpunt, wat nou met die Siriese burgeroorlog verder eskaleer. 

 

Die Christian Science Monitor bespreek in ‘n omvattende artikel die komplikasies van sulke veilige sones. http://www.csmonitor.com/World/Middle-East/2012/0829/Why-no-safe-zone-in-Syria-yet-5-complications/It-constitutes-a-military-action

 

Onder die probleme wat die CSM voorsien is dat die moondhede wat die veilige sones waarborg, by die konflik self betrek kan word. Dit sal onder meer vliegspergebiede vereis, en met Assad wat steeds van voorneme is om die opstandelinge te verslaan, is botsings onafwendbaar tensy Assad kopgee.

 

Dit gaan ook moeilik wees om te keer dat rebelle die veilige sones as afspringplekke teen Assad se magte gebruik. Veilige basisse is die grondslag van insurgensie, en insurgente is nie kieskeurig wat dit behels nie – hetsy sogenaamde “no go”-sones soos wat die IRL in Noord-Ierland afgedwing het, skuiling in buurlande van waar aksies geloods word, of onder die neuse van vredesmagte soos op die Balkan gebeur het.

 

Tog is veilige sones die “maklikste” opsie vir ‘n wêreld wat magteloos vertoon om sy volkeregtelike plig na te kom van “verantwoordelikheid om te beskerm.” Die ander opsies, wanneer vreedsame metodes misluk om dele van die Siriese bevolking teen volksmoord te beskerm, is nog drastieser.

 

Al meer berigte kom in omloop dat daar ‘n moontlikheid is dat Assad chemiese wapens sal aanwend. Dié berigte is moontlik strategies geplant, om ‘n klimaat te skep waar die toepassing van “verantwoordelikheid om te beskerm” sterker geregverdig is. Om dit bietjie meer stukrag te gee, word bygevoeg dat Assad waarskynlik die chemiese wapens by die muishondland, Iran gekry het.   

 

Herman Toerien

Brasilië stel minderheidskwotas vir universiteite in

Na dertien jaar se parlementêre debatvoering, het die Brasiliaanse president, Dilma Rousseff, ‘n wet onderteken waarkragtens federale universiteite die helfte van hul beskikbare getalle vir studente uit openbare skole moet reserveer. Die wet maak ook voorsiening daarvoor dat ruimte gemaak moet word vir studente uit minderheidsgroepe soos swart, Indiaans of van gemengde herkoms.

Dit raak 59 gratis openbare universiteite, en het ten doel om hul studente meer verteenwoordigend van die bevolkingsamestelling te maak, maar terselfdertyd te verseker dat die leeromgewing gesond bly. Toegang bly afhanklik van die aflê van ‘n toelatingseksamen.

Sowat 30 van die universiteite het reeds op hul eie kwotas begin gebruik, maar dit het beperkte resultate opgelewer.

 

Moontlik vroeë aanduidings van veeboerdery in Israel gevind

 

Twee figure van tussen 9 000 en 9 500 jaar oud is gevind in die uitgrawings om die pad tussen Jerusalem en Tel Aviv te verbreed.

 

Die figure beeld ‘n ram uit wat uit kalksteen gemaak is, en ‘n groot dier wat uit dolomiet gekerf is. Die groot dier is abstrak gemaak, en kan ‘n antieke bees of buffel wees.

 

Die navorsers meen die beeldjies kom dalk as gelukbringers vir jag gebruik gewees het, of kon uitbeeldings van vroeë domestikasie wees.

 

Onlangse navorsing, gerugsteun deur genetiese toetsing, voer die vroeë  domestikasie van beeste tot bykans 10 000 jaar voor Christus terug.

 

http://www.bloomberg.com/news/2012-08-29/stone-age-animal-figurines-unearthed-outside-jerusalem.html

en http://rspb.royalsocietypublishing.org/content/272/1579/2345.full