Subscribe by Email

Wêreld in ‘n neutedop

Ou opvatting van regoploop en geboorte by mense uitgedaag
‘n Professor van die Universiteit van Rhode Island in die VSA en haar navorsingsgenote daag nou ‘n gevestigde opvatting uit oor die verband tussen die mens se vermoë om regop te loop, geboorte weens die baba se kopgrootte en die wydte van die vrou se bekken.
Prof. Holly Dunsworth en haar mede-navorsers meen egter die ouderdom waarop die mens se kinders gebore word, hou verband met die tydperk waarop die vrou se liggaam nie meer die nodige energie kan produseer vir haar en die baba nie. Hul bevindings is in die jongste uitgawe van Proceedings of the National Academy of Sciences gepubliseer.
Die navorsers het onder meer toetse op trapmeule gedoen om vas te stel of die argument water hou dat nog wyer heupe iemand se vermoë om regop te loop, negatief sou beïnvloed, maar dit het geblyk nie die geval te wees nie.
Voorts het vergelykende studies aan die lig gebring dat die mense se baba teenoor primate eintlik laat gebore word, nie vroeg soos algemeen aanvaar en as rede vir die menslike baba se ontwikkelingsagterstand met geboorte verband hou nie.
Die opvatting wat nou uitgedaag word is dat die mens se baba “vroeg” gebore word om te keer dat sy kop te groot ontwikkel, en dus nie nog wyer heupe verg wat die vermoë om regop te loop sal aantas nie.
Hul toetse dui eerder op ‘n metaboliese verband.

Irak stel glo baie terroriste tereg
Die internetkoerant, Al Bashir, berig dat Irak gisteroggend altesaam 254 veroordeelde terroriste gaan teregstel.
Volgens die koerant het dit onlangs bekend geword dat Irak 20 terroriste, waaronder drie vroue, tereggestel het. Irak het egter intussen amptelik bekend gemaak dat 21 veroordeelde terroriste, waaronder drie vroue, pas tereggestel is.
Al Bashir se aansprake oor die 254 kon nie onafhanklik bevestig word nie.
Volgens Al Bashir is meer as 1 200 mense sedert 2004 in Irak weens terrorisme ter dood veroordeel.

Frankryk begin met moordondersoek na dood van Arafat
Franse aanklaers het ‘n moordondersoek na die dood van die Palestynse leier, Yasser Arafat begin, aldus die Franse nuusagentskap Sipa, wat ‘n bron by die departement van Justisie aanhaal.
Arafat is in 2004 in ‘n Franse mediese kliniek dood.
Die vet het onlangs in die vuur beland toe die nuusagentskap Al-Jazeera berig het dat Switserse navorsers klein hoeveelhede radioaktiewe Polonium 210 op voorwerpe gekry het wat aan Arafat behoort het.
Slegs klein hoeveelhede hiervan is nodig om iemand mee te vermoor, en al manier waarop dit vasgestel kan word, is om die liggaam self daarvoor te ondersoek. Polonium het egter ‘n kort halfleeftyd, en dit kan reeds te laat wees.
Arafat was lank een van die bekendste gesigte van internasionale terreur, en was leier van sowel sy eie organisasie, Al Fatah, as die Palestynse sambreelliggaam, die Palestynse Bevrydingsbeweging (PLO). Terwyl Al Fatah as gematigd beskou is, het een van sy splinters, bekend as die Swart September, opspraakwekkende dade van terreur gepleeg, waaronder die slagting van Israelse atlete by die Olimpiese Spele in München. Een van die mees bekende terreurgroepe van die PLO was die Palestynse Bevrydingsfront.

Herman Toerien