Subscribe by Email

Wêreld in ‘n neutedop

Samsung moet $1 miljard aan Apple betaal

Skaars ‘n dag na ‘n Suid-Koreaanse hof Samsung en Apple gelas het om van hul produkte van rakke te verwyder omdat hulle mekaar se patentreg geskend het, het ‘n Amerikaanse hof Samsung gelas om meer as $1 miljard in patentregskending aan Apple te betaal.

Die jurie van die Amerikaanse hof in San Jose het Samsung, ‘n Suid-Koreaanse maatskappy, se teeneis van die hand gewys. In die bittere stryd tussen die twee maatskappye beskuldig hulle mekaar van sowat 700 patentregskendings.

Die hof het Apple nie in al die eise gelyk gegee nie.

Meksikaanse polisie skiet op VSA-ambassademotor

Die Amerikaanse regering het terughoudend gereageer oor ‘n insident Vrydag waartydens Meksikaanse polisie op ‘n Amerikaanse diplomatieke voertuig losgebrand en twee personeellede, asook ‘n Meksikaan wat in die motor was, gewond het.

Die diplomatieke voertuig was suid van Meksiko-stad onderweg na ‘n militêre basis toe die bestuurder mense met vuurwapens in ‘n ander voertuig gewaar, en ‘n maneuver uitgevoer het om buite bereik te wees. Toe hy terug op die pad kom, is die diplomatieke voertuig agternagesit, en skote geskiet. Nog twee polisievoertuie het hulle by die agtervolgers aangesluit en ook geskiet.

Die vermoede is dat die polisie gedink het die diplomatieke voertuig was ontvoerders, terwyl die diplomate gemeen het hulle word die slagoffers van ‘n Meksikaanse dwelmkartel.

Sedert die Meksikaanse regering in 2005 oorlog teen die dwelmkartelle verklaar het, het moorde byna drievoudig toegeneem. In 2005 was die Meksikaanse moordkoers 9 per 100 000 per jaar. Verlede jaar het dit tot 24 per 100 000 per jaar toegeneem, en meer as 27 000 mense het omgekom.

Suid-Afrika se moordkoers is 32 per 100 000 per jaar, en in die Wes-Kaap met sy kultuur van bendegeweld, 44,2 per 100 000 per jaar.
Dooie See verklap klimaatsgeheime

Met die belangrikheid van klimaatsveranderings wat nou plaasvind word die verskynsel intensief deur verskillende vakgebiede bestudeer. ‘n Vertakking van die argeologie kyk ook hierna. Biologiese materiaal wat in ys vasgevang en bewaar word, lewer byvoorbeeld baie inligting op.

Danksy die dalende vlak van die Dooie See kan wetenskaplikes egter ook deur boorwerk inligting in nog ‘n stof bekom wat biologiese materiaal goed bewaar – sout. Die Dooie See se watervlak daal onder meer weens die onttrekking van baie vars water uit sy voedingsbronne.

By die Ein Gedi-oase aan die Wesoewer het wetenskaplikes 21 meter diep geboor en ‘n soutstaaf onttrek. Die onderste laag van hierdie staaf strek 10 000 jaar terug, en deur die stuifmeel te bestudeer wat in die verskillende lae gevind is, kon vasgestel word watter soort klimaat in bepaalde tye in die omgewing geheers het.

Drie spesifieke klimaattipes, wat mekaar vinnig opgevolg het wanneer die klimaat verander het, is gevind. Die natste periodes het ‘n Mediterreense tipe klimaat opgelewer, afgewissel met ‘n steppe-klimaat en ook ‘n woestynklimaat.

Die data wat so versamel is, klop goed met data wat bekom is deur die wisselende vlakke van die Dooie See te meet.

Die wetenskaplikes van die Universiteit van Bonn wil nou selfs dieper boor om die klimaatspoor selfs nog verder terug te volg.

Die foto’s dui die lae van die soutstaaf aan, en die stuifmeel onder ‘n mikroskoop. (Foto’s, Universiteit van Bonn

Bron:

http://www.pasthorizonspr.com/index.php/archives/08/2012/researchers-study-dead-sea-climate-past-finding-dramatic-results
Reuse aardbewing naby El Salvador – “swerm” tref Suid-Kalifornië

‘n Reuse aardbewing van 7,4 op die Momentmagnitudeskaal het in die Stille Oseaan sowat ‘n 100 kilometer van die kus van El Salvador plaasgevind, maar nog geen berigte van ernstige skade is ontvang nie, en geen algemene tsunami-waarskuwing is uitgereik nie.

Die aardbewing volg kort na ‘n “aardbewingswerm” die suide van Kalifornië, naby die dorp Brawley begin tref het. Meer as 300 aarbewings, waarvan die sterkste M 5,5 gemeet het, het die gebied getref en geringe skade aangerig, waaronder aan drie historiese geboue.

Die VSA het die afgelope week die aardbewing gedenk wat ‘n jaar gelede skade aan onder meer Capitol Hill in die VSA aangerig het. Die USGS het die geleentheid benut om mense attent te maak op hoe om voorsorg te tref en te reageer op aardbewings.

Brawely word elke paar jaar deur sulke aardbewingswerms getref, maar word nie noodwendig as ‘n aanduiding beskou dat die Kaliforniese grote op pad is nie.

Tot voor die naweek het die Amerikaanse USGS se wêreldkaart van beduidende aardbewings die afgelope week net sowat 150 aardbewings aangedui, maar vanoggend wys dit reeds meer as 270.

Die aardbewing by El Salvador is die agste aardbewing van M 7 of meer wat vanjaar wêreldwyd voorgekom het. Die afgelope aantal jare het daar 20 of meer sulke aardbewings voorgekom, en is vanjaar relatief stil wat werklike grotes betref.

Foto: Artikels lê gesaai in ‘n supermark in Brawley – Los Angeles Times

Duitse storm oor besnydenis ontstel Israel

Die Duitse kanselier, Angela Merkel, het ‘n etiese kommissie aangestel na ‘n regter van Keulen bevind het dat die verwydering van die voorhuid by kinders op strafbare verminking neerkom.

Die uitspraak van 26 Junie het weer opslae gemaak na die hoofrabbyn van Beiere aangekla is na ‘n naamlose klaer hom weens die besydenispraktyk verkla het.

Die storm het ook na ander lande versprei, en drie hospitale in Switserland en Oostenryk het ‘n verbod op besydenisse geplaas. Een het na oorleg dit weer toegelaat.

Die Israelse premier, Shimon Peres, het in sy brief aan die Duitse regering Merkel se kommissie as ‘n stap in die regte rigting beskryf.

Die regter het sy uitspraak bevind dat die liggaamlike integriteit van die kind voorrang bo die wense van die ouers geniet. Hy meen sy standpunt tas nie godsdiensvryheid aan nie omdat die kind self later ‘n keuse vir besnydenis kan uitoefen.

Merkel se kommissie moet wetlike riglyne vir die besnydenis vasstel. Dit sluit in dat beide ouers toestemming moet verleen, en dat die ouers oor behoorlike voorligting oor die gevare daarvan moet ontvang.

Twee jaar gelede het Nederlandse dokters ook ir ‘n ontmoedigingsbeleid gepleit, en op die gevare van die besnydenis gewys. Buisvernouings en amputasies het onder die gevare getel.

Taliban onthoof 17 oor dans

Altesaam 17 feesgangers is na berig word in die Afgaanse provinsie Helmand onthoof omdat hulle op die maat van musiek gedans het. Dié streek word volkome deur die Taliban beheer.

In dieselfde omgewing is tien Afgaanse soldate dood toe ‘n kontrolepunt aangeval is. Elders in die land is twee Navo-soldate in aanvalle dood, terwyl ‘n A gaanse soldaat ook omgekom het toe Navo-magte op hom geskiet het. De Standaard berig dat insidente soos hierdie die afgelope ruk skerp toegeneem het.

Taliban onthoof 17 oor dans

Altesaam 17 feesgangers is na berig word in die Afgaanse provinsie Helmand onthoof omdat hulle op die maat van musiek gedans het. Dié streek word volkome deur die Taliban beheer.

In dieselfde omgewing is tien Afgaanse soldate dood toe ‘n kontrolepunt aangeval is. Elders in die land is twee Navo-soldate in aanvalle dood, terwyl ‘n A gaanse soldaat ook omgekom het toe Navo-magte op hom geskiet het. De Standaard berig dat insidente soos hierdie die afgelope ruk skerp toegeneem het.

Nederland sit misdadige arbeidsmigrante land uit

Nederland het sedert verlede jaar 420 arbeidsmigrante die land uitgesit omdat hulle hul in dié land met misdadige bedrywighede besig gehou het. Dié nuus is deur die minister van Maatskaplike en Wersksaangeleenthede, Henk Kamp aan die parlement bekend gemaak.

Die regering het ook die probleem van skynselfstandigheid aangepreek. Dit is mense wat die land binnekom onder die voorwendsel dat hulle selfstandige ondernemers is. Altesaam 382 is opgespoor en hul werkgewers beboet.

Die regering het ook die aantal werkspermitte drasties ingekort. Twee jaar gelede is 2 666 toegestaan, verlede jaar 923 en vanjaar is nog net 19 toegestaan.