Subscribe by Email

Wêreld in ‘n neutedop

Lonmin-skietery

Die bloedbad by die Loinminplatinummyn by Marikana bly steeds groot nuus in die buiteland. Die minister van polisie word aangehaal dat hy gesê het die sterftesyfer is 30.

Arizona se dag van gebed oorleef hofaansoek

Arizona se dag van gebed wat deur die staat se goewerneur, me Jan Brewer geproklameer is, bly geldig nadat ‘n hoër hof ‘n vroeëre distrikshofbevel gehandhaaf het.

‘n Aansoek om die dag van gebed te verbied is in Maart 2010 deur die “Free from Religion Foundation” van Wisconsin ingedien. Die stigting het aangevoer die proklamasie oortree die grondwetlike verbod op die regering om ‘n godsdiens te bevorder.

Regter Eileen Willett het die aansoek afgewys en voorts verklaar dat die aansoek met vooroordeel ingedien is. Dit beteken die aansoek mag nie weer voor die hof gebring word nie.

Dié berig het kort na dit op die Christian Coalition of America se webblad geplaas is, reeds meer as 42 000 “likes” opgelewer.

Aardbewing skud Nederland

‘n Ligte aardbewing het Nederland geskud en geringe skade is aangerig. Dit was nie vir die nooddienste nodig om uitgeroep te word nie. Die aardbewing was ongeveer dieselfde sterkte as die skudding wat die Suid-Vrystaat, met episentrum Edenburg, laat rittel het. ‘n Effens sterker aardbewing het onlangs in naasliggende Denemarke voorgekom. Noord-Europa, anders as Suid-Europa, word nie as ‘n aardbewingsone beskou nie.

VSA-droogte laat gesinkte skip na meer as eeu hoog en droog

Die romp van die grootste skip wat ooit op die Missouri gevaar het en in 1884 gesink het, het danksy die droogte bo die water begin uitsteek. Die Montana was langer as ‘n rugbyveld, en het gesink na dit ‘n boomstomp in die water getref het. Dis nader aan die wal gesleep waar dit onder die water verdwyn het.

Siriese vise-president loop nie oor na rebelle

Die Arabiese Al-Arabiya het ‘n verklaring voorgelees waarin die Siriese vise-president, Farouq al-Shara, glo na die rebelle oorgeloop het. Dit het later geblyk dat dit Shara se neef, Yarab is wat oorgeloop het.

Shara sou volgens die verklaring ‘n beroep op die weermag gedoen om ook so te maak.

Intussen het die Organisasies van Islamitiese Lande wat ‘n spitsberaad in Mekka gehou het, Sirië uit die organisasie geskop. Die skorsing was in weerwil van protes deur Iran.

Wikileaks-baas kry asiel by Ecuador

Ecuador het pas bekend gemaak dat dié land politieke asiel aan die voortvlugtige Australiër, Julian Assange toegestaan het. Assange, die grootbaas van Wikileaks wat verskeie wêreldleiers eier in die gesig besorg het, hou hom al twee maande lank skuil in die Ecuadoriaanse ambassade in Londen, om te keer dat hy aan Swede uitgelewer word.

Ecuador se minister van Buitelandse Sake, Ricardo Pinto, sê die moontlikheid bestaan dat Swede Assange aan die VSA kan uitlewer, en dat hy daar die doodstraf opgelê kan word. Hy dink ook nie Assange kan in Swede of die VSA ‘n regverdige verhoor verwag nie. Assange moet in Swede op ‘n aanklag van verkragting tereg staan.

Brittanje het aangedui dat Assange nie vrygeleide uit die Ambassade sal kry nie, en gearresteer sal word as hy sy voete buite die ambassade sit.