Subscribe by Email

Welvaartgaping

In ‘n toespraak vandag in Switserland het FW de Klerk die netelige probleem van die voortdurende gaping tussen rykes en armes in Suid-Afrika aangespreek.

Mnr De Klerk het daarop gewys dat Suid-Afrika ‘n lang en ongelukkige geskiedenis van ongelykheid het. Vir die hele tydperk tussen 1925 en 1960 het die swart aandeel van persoonlike inkomste slegs 20% van die totaal uitgemaak. Toe, in 1970 – as gevolg van hoë ekonomiese groei gedurende die 60s en die toenemende vraag na arbeid, het dinge begin verander. Tussen 1970 en 1995 het die swart aandeel van persoonlike inkomste van 22% tot 38% toegeneem en het die blanke aandeel van 67% na onder 50% afgeneem. Dit het beteken dat die welstandgaping vir hierdie hele tydperk teen ‘n koers van bykans 2% per jaar gekrimp het.

Desnieteenstaande was die gemiddelde inkomste van swart Suid-Afrikaners in 1995 steeds slegs 12.5% van dié van hul blanke mede-burgers. Suid-Afrika het ‘n GINI-kwosiënt [wat ongelykheid meet] van .67 – een van die hoogstes ter wêreld.

Suid-Afrika het tot ‘n sekere mate vooruitgang gemaak om die visie van gelykheid en geregtigheid te verwerklik sedert 1994. Die regering het meer as 3-miljoen huise gebou – genoeg om bykans ‘n kwart van die bevolking te huisves. Dit het ook toegang tot water, sanitasie en elektrisiteit uitgebrei na 75% van huishoudings.

Suid-Afrika het egter swak presteer in die bevordering van gelykheid. Mnr De Klerk het dit toegeskryf aan die voortdurende hoë vlakke van swart werkloosheid; uiters swak prestasie in swart onderwys; en die wyse waarop die regering gepoog het om ongelykheid aan te spreek.

Slegs 41% van Suid-Afrikaners is in die ekonomie betrokke – vergeleke met meer as 60% in meeste ekonomieë. Ses-en-dertig persent van die potensiale arbeidsmag en meer as 40% van swart Suid-Afrikaners is werkloos. Werkloosheid is die hoof oorsaak van armoede en is een van die grootste redes waarom Suid-Afrika nie sedert 1994 enige vooruitgang gemaak het om ongelykheid te bekamp nie. “Meer ernstig, beteken dit dat ons nuwe grondwetlike demokrasie nie vir ‘n beduidende deel van ons bevolking werk nie – insluitend 70% van ons jeug”.

Mnr De Klerk het gesê dat die hoof oorsaak van werkloosheid vakbonde is wat aandring op, wat hulle noem, “behoorlike werk” – wat miljoene mense uit die arbeidmark uitsluit deur arbeidkostes ver bokant die punt te plaas waar die arbeid aanbodkurwe die aanvraagkurwe kruis. Werkloosheidvlakke is ook beïnvloed deur die uitwerking van arbeidregulasies – veral by klein en medium-grote besighede wat 60% – 70% van werkgeleenthede skep in meeste ekonomieë. Boonop het aggressiewe vakunies, bespiegeling oor nasionalisasie en die las om te voldoen aan breed-gebaseerde swart ekonomiese bemagtiging buitelandse beleggings ontmoedig, wat weer minder werkgeleenthede tot gevolg gehad het.

Die tweede oorsaak in die volgehoue ongelykheid is die mislukking van die onderwysstelsel – veral vir swart Suid-Afrikaners. Swak onderwys verbreed die welstandgaping omdat ongelykheid nie alleen deur hoër werkloosheid veroorsaak word nie, maar ook deur die lae lone wat aan ongeskoolde werkers betaal word.

Sedert 1994 – en met die heel beste motiewe – het die regering konsekwent die verkeerde besluite geneem op bykans elke terrein van die onderwys. Suid-Afrikaanse leerders van alle ouderdomme vaar sleg in vergelykende studies van skoleprestasie in meeste ander lande. “Trouens, ons vaar slegter as baie ander veel armer Afrika- lande. Volgens ‘n onlangse opname in Newsweek beklee Suid-Afrika die 97ste plek op die gebied van onderwys uit 100 lande in die opname.”

Laastens, volgens mnr De Klerk se mening, het die regering die verkeerde stappe geneem om die welstandgaping toe te maak. Dit het buitensporig gekonsentreer op regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging – wat die middelklas grootliks bevoordeel het – maar het bykans niks gedoen vir die onderste 60% van die bevolking nie.

‘n Klein aantal wat voordeel getrek het uit swart ekonomiese bemagtiging het skouspelagtig ryk geword. Suid-Afrika het ook een van die vinnigste-groeiende middelklasse in die wêreld. Daar was egter bykans geen vordering in die lae-inkomste gedeelte van die bevolking nie. “Dit is soos om musikale stoele te speel in die eersteklas salon van ‘n pasassierskip – terwyl diegene in die ekonomiese en tussendek klasse streng op die laer dekke ingehok word.”

In sekere gevalle kon regeringsbeleid selfs ongelykheid bevorder het. Ongebalanseerde regstellende aksie het ‘n groot rol gespeel in die ineenstorting van dienslewering in die helfte van Suid-Afrika se munisipaliteite en sommige sleutel staatsdepartemente. Dit het dienooreenkomstig ‘n nadelige uitwerking op die lewering van dienste vir die breë publiek gehad – en mag dus die vlak van gelykheid verlaag het in ons gemeenskap.

Mnr De Klerk het gesê dat regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging, as dit regverdig toegepas word, wel ‘n rol mag speel om groter gelykheid te ontwikkel binne die boonste 20% inkomstegroep. “Dit is egter toenemend duidelik dat dit nie die mees toepaslike ‘wetlike en ander maatreëls’ is ‘om die daarstelling van gelykheid in die breë gemeenskap’ te bevorder nie”.

Volgens mnr De Klerk se mening behoort die regering eerder te konsentreer op maatreëls wat alle burgers groter toegang sal gee tot behoorlike onderwys, doeltreffende dienslewering – en bo alles, werkgeleenthede.

Mnr De Klerk het gesê dat daar tekens is dat die regering die uitdaging aanvaar. “Onder leiding van Trevor Manuel, Suid-Afrika se wyd-gerespekteerde voormalige Minister van Finansies, het die Nasionale Beplanningskommissie ‘n praktiese en sinvolle nasionale ontwikkelingplan opgestel.” Die Plan se twee belangrikste doelwitte is werkskepping en die verbetering in onderwyskwaliteit. Die oorhoofse doelwit moet egter wees om die visie van menswaardigheid en gelykheid
in die Grondwet te realiseer.

Suid-Afrika se ondervinding in die proses om die welstandgaping aan te spreek het bewys dat daar nie maklike oplossings is nie. Miskien is die mees belangrike les wat geleer is dat, indien mens gelykheid wil bevorder, mens op die basiese moet konsentreer

• deur behoorlike onderwys te voorsien;
• deur ‘n buigsame arbeidsmark te verseker; en
• deur ‘n omgewing te skep vir lewensvatbare ekonomiese groei.