Subscribe by Email

Welkom by die Teeparty

Namate die Amerikaanse ooreenkoms oor die hantering van die staat se skuldplafon insink, hoe meer raak dit duidelik dat pres. Barack Obama ‘n gevoelige politieke neerlaag gelei het.

Dié keer moes hy nie soseer die knie buig voor die Republikeine, of soos dit gereeld genoem word, die Grand Old Party (GOP) nie, maar ‘n meer sigbare drukgroep, die Tea Party. Die Tea Party en ander drukgroepe, soos die 4 miljoen sterk Christian Coalition of America, het ‘n beergreep op die Republikeinse verkry, en maak dit heel duidelik aan kongreslede dat hulle met ‘n volgende verkiesing maar hul tassies kan pak as hulle teen die wense van die drukgroepe in stem. Van stem volgens gewete – wat moontlik is omdat koukusgebondenheid nie soos hier geld nie – was daar dié keer amper geen sprake nie.

Die verligting met die skuldplafon word gebalanseer met ‘n intensiewe besparingsprogram oor die volgende tien jaar. Obama, wat nog ambisieuse en duur planne gehad het soos ‘n openbare gesondheidsorgplan en dat aborsies op aanvraag op staatskoste kan plaasvind, merk nou op dat die land nou ‘n fase van die laagste openbare uitgawes in 50 jaar ingaan, en vergelyk met die era van pres. Dwight D. Eisenhower. Obama en sy getrouste nalopers wou gewoon die belasting van die rykes en suksesvolle korporasies verhoog.

Dit, volgens enige ekonomiese model, kom op die slag van die gans wat die goue eiers lê neer. Dit is juis die sektore wat die beste en meeste werksgeleenthede skep, en in die VSA waar die werkloosheidskoers pas tot bo die nege persent geklim het, is dit ernstige skoorsoek.

Ironies is China die Amerikaanse regering se grootste skuldeiser, en selfs dié het die regering van onverantwoordelikheid beskuldig.

Vir die res van die wêreld is die nuus dalk bietjie slegter nuus as vir die VSA. Die VSA gaan nou minder geld hê om beleggings te doen wat ekonomieë elders ‘n hupstoot gee.

Almal, of hulle nou wil of nie, sit dus by hierdie teeparty aan. ‘n Karige teeparty sonder die kerk se susters se heerlike gebak. ‘n Kaal tee, soos die ou mense gesê het.

Trouw som dit in sy redaksionele kommentaar baie raak op: Pres Barack Obama is op papier die regerings- en staatshoof van die magtigste land ter wêreld, maar is nou stewig aan die leiband van die Tea Party. Boonop dui die meeste peilings nou dat hy volgende jaar die onderspit teen ‘n republikeinse kandidaat gaan delf – selfs al weet niemand nog wie die GOP gaan verteenwoordig nie.

Obama se verkiesing tot president het teen ‘n beweging na regs in, in die VSA geskied. Die Christian Science Monitor het juis onlangs ‘n lang artikel gedra oor dié beweging na regs, wat deur Obama se verkiesing eerder gestimuleer is as beperk is. Obama se voorkeure oor aborsies en gay huwelike – ‘n hoogs kontensieuse saak in die VSA waar deelstate, die kiesers en howe erg toutrek om dit gewettig of verbied te kry, het lou kiesers kykies gegee van wat die uiteinde van ‘n liberale regering is. Die Tea Party het as teenreaksie ontstaan.

Die ooreenkoms het dalk ‘n globale ekonomiese katastrofe afgeweer, maar die gevolge is nie wat ekonome en beleggers graag wou sien nie. Beleggers kyk dus heel opsigtelik nog na alternatiewe beleggings, en een hiervan is goud. Hoewel Suid-Afrika nou al as goudprodusent deur onder meer Rusland en China uitgestof word, is dit steeds belangrik. In 2005, met ‘n trae goudprys, het Suid-Afrika $8,3 biljoen uit sy goudproduksie verdien. Nou is die goudprys sowat $53 700 per kilogram, en die land produseer 44 682 kg goud per jaar. ‘n Gewone sakrekenaar kan nie dié sommetjie maak nie.

Vir ‘n ekonomies sukkelende provinsie soos die Vrystaat, wat sowat ‘n derde van die goud lewer, is dit ‘n bonus, al word al die goud nie in die provinsie verwerk nie. Boonop maak dit die heropening van onlonende skagte weer lonend, en nuwe myne kan geopen word. Daarby lewer die myne belangrike newe-produkte soos silwer en uraan. Goudproduksie is egter nie ‘n proses wat oornag opgestoot kan word nie, en dis nie so maklik om te skep terwyl dit gouddruppels reën nie.

Tog lyk dit of die ooreenkoms wat in die Amerikaanse Kongres gesluit is, goudbeleggers minstens ‘n tien goue jare besorg het.

Iewers gaan iemand, al is dit net tydelik, vir ‘n “high tea” aansit.

Herman Toerien