Subscribe by Email

Weerstandige MIV in Afrika neem toe

Kommer dat MIV-mutasies groter weerstandigheid teen bestaande medikasie sal hê, blyk in die kol te wees, blyk uit die Internasionale Vigs-konferensie wat nou in Washington DC plaasvind.

Navorsers het in ‘n omvattende ondersoek vasgestel dat die weerstandige MIV veral in Suidelike en Oos-Afrika versprei, en ook kommer uitgespreek oor die tempo waarteen die weerstandigheid toeneem. Die navorsers waarsku dat die  vordering wat die afgelope dekade met die afname in sterfgevalle gemaak is, tot niet gemaak kan word.

Die toename word toegeskryf daaraan dat al hoe meer pasiënte in Afrika toegang het tot medikasie.

Alternatiewe is in baie van die gevalle beskikbaar, maar dikwels veel duurder as dit waarteen die weerstandigheid ontwikkel.

Die navorsers stel voor dat lande die toename in weerstandigheid beter monitor, en ook moet toesien dat pasiënte hul medikasie gereeld gebruik. Onderbrekings in die voorsiening van medikasie moet voorkom word.

Van die wêreld se 34 miljoen geïdentifiseerde MIV-positiewe mense woon 23 miljoen in Afrika ten suide van die Sahara. Teen 2040 sal 28 persent teenoor die huidige 13 persent MIV-lyers ouer as 50 wees. Dit beteken meer lyers sal siektes soos diabetes, hartsiektes en kanker opdoen omdat die MIV-behandeling mense vatbaar maak ir dié siektes.