Subscribe by Email

Weer droogvoets oor die Beringsee

Herman Toerien

Na talle gesneuwelde pogings sedert die jare 1880, lyk dit asof ‘n tonnel onderdeur die Beringsee ‘n werklikheid gaan word. Vir die eerste keer in meer as 10 000 jaar sal ‘n mens dan weer teoreties droogvoets van Siberië na Alaska kan loop.

Die Kremlin het pas sy goedkeuring verleen aan hierdie ambisieuse plan, wat sowat $100 miljard gaan kos. Die plan is pas sterk op die tafel geplaas by ‘n konferensie in Yakutsk, algemeen bekend as die koudste stad ter wêreld. Die konferensie is deur verteenwoordigers van Rusland. Sjina en die VA bygewoon, en het daarna die groen lig gekry by invloedryke Russiese regeringslui. Hoewel die twee vastelande op hul naaste punte sowat 80 kilometer uit mekaar is, sal die tonnel sowat 104 kilometer lank wees, ongeveer twee keer so lank soos die tonnel onder die Engelse Kanaal, die Eurotonnel. Die bouwerk sal sowat 15 jaar duur.
Vir meer as ‘n eeu het planne vir die verbinding gehink op die gedagte van ‘n brugvebinding of ‘n tonnel. Die brug so in wese uit drie segmente bestaan, en onderbreek word deur twee eilande min of meer in die middel van die oortog. Dit sou beteken dat nie een van die lang segmente die langste bestaande brug ter wêreld sou wees nie.

Die “finale” besluit het egter nou op die tonnel geval.

Die tonnel, wat vragmotorvervoer gaan dra, sal volgens die beplanners elke jaar meer as $12 miljard aan inkomste vir die eienaars genereer. Rusland hoop dat die tonnel ook gebruik kan word om elektrisiteit aan Alaska en Kanada te verkoop.

Die hoofdoel is egter om reuse reserwes van olie en aardgas, asook ander minerale rykdomme in Siberië te kan ontsluit. Die tonnel sou die Russe ontsaglik baie aan die oprigting van verbindingsweë na sy bestaande netwerke spaar, omdat dié in Alaska wat veel nader is. Maar ook aan die kant van Alaska sal nog steeds lang afstande infrastruktuur aangelê moet word omdat die beginpunt van die tonnel ook ver van die naaste behoorlike verbindingsweë geleë is. Uiteindelik sal die ontginning dit ook vir die Russe lonend maak om hul eie infrastruktuur uit te brei.

Alaska word egter met sterk aardbewings geassosieer, en die vraag is dus of dit nie ‘n gevaarlike onderneming is nie? Op 24 Junie vanjaar het ‘n aardbewing van M 7.2 nog die Fox-eiland aan die skiereiland van Alaska geskud, en sedertdien is daar ‘n onophoudelike reeks ligte aardbewings wat die nie net die skiereiland en eilande skud nie, maar dwars oor die noord-suid breedte van Alaska in ‘n strook voorkom. By die beoogde verbindingsgebied lyk dit egter of die geologie baie stabiel is.