Subscribe by Email

Weer amper Cheetahs

Cheetahs

Weer so amper!
Die Cheetahs het weer soos gereeld verlede jaar gemaak deur ‘n neerlaag uit die kake van ‘n oorwinning te pluk, in hul houtlepel-wedstryd teen die Nieu-Seelandse Hurricanes.
Dit was ook net mooi die Cheetahs se geluk dat die sterbelaaide Hurricanes besluit het om hul rugbykouse teen die Sentrale Streekspan reg te druk. Die gevolg was ‘n drieëfees. Teen rustyd het die twee spanne saam reeds meer as sestig punte op die telbord geplaas, en die Hurricanes het reeds ‘n bonuspunt met vier drieë vasgeknoop.
Uiteindelik het die Cheetahs self vyf keer agter die doellyn gaan kuier – twee keer deur die Cheetahs se stiefseun, Riaan Smit, en drie keer deur Super Sarel Pretorius.
Waar het sake vir die Cheetahs verkeerd geloop?
‘n Paar keer is die verdediging te maklik oorhoops gevang, en te veel keer is spelers met minagting afgestamp. Verder het die Cheetahs nog nie die kwaal afgeskud om besit in kontaksituasies te verloor nie, die koue het weer die bottervingers laat werk, en dan ‘n liederlike taktiese flater – deur Adriaan Strauss na rustyd op te stuur.
Niemand twyfel oor Strauss se vermoëns nie, maar die Springbok was lank beseer, en Ryno Barnes het ‘n barshou gespeel. Strauss het self ‘n slag of wat gewys wat in hom steek, maar het nie sy springers gevind nie. Die gevolg was dat die Cheetahs gesukkel het om op die aanval te kom en te bly.
Die siekte om besit in kontak af te staan, laat die Cheetahs swig voor die versoeking om besit weg te skop – en dié keer was die bottervingers gelukkig gereeld aan die ander hande – die Hurricanes het gereeld dié balle aangeslaan.
Die Cheetahs het nou ‘n loslootjie, wat hulle goed kan benut om te kyk of hulle die pynpolisiepasiënte minder kan maak, en ‘n paar kinkels uit spelers se mondering te wikkel. Die jammerte is dat die “taktiese” skopwerk van die Cheetahs dié keer so gereeld gewerk het – dit waarborg amper dat dit weer probeer gaan word, en dit verseker amper weer by voorbaat ‘n rits stroomop-drieë van die pasellabesit af. Die Lions, die Sharks, die Bulls en veral die Stormers is reeds goed bedrewe met drieë druk van Blikoor-mamparraskoppe af, en die Brumbies en Rebels sal stellig ook hul lippe hiervoor aflek.
Skielik is die Cheetahs net tien punte agter die Bulls, hoewel met een meer wedstryd agter die blad, en gaan dié span wat die meeste van sy oorblywende wedstryde op sy tuisveld speel, iets in die visier hê. Boonop blaas die onvoorspelbare Lions in die Cheetahs se nekke, en n iemand is lus om in die relegasiesone vir liederlike teenspoed te tender nie. – Herman Toerien