Subscribe by Email

Wanneer is krieketspeler gereed vir hoëre louere?

Wanneer moet ‘n krieketspeler die sprong van klubkrieket na provinsiale krieket, en van daar af weer na die toetsspan maak?

Vir die uwe is dit ‘n sensitiewe vraag – my krieketwêreld was net goed gevorm toe eers Peter van der Merwe en daarna Ali Bacher se Springbokspanne die Aussies afgeslag het. Die name waarmee ek grootgeword het was name soos Mike Proctor, Graeme Pollock, Tiger Lance, Eddie Barlow en Barry Richards.

Toe slaan die isolasiejare toe. Baie skitterende spelers soos Peter de Vaal was reeds gekies vir ‘n Springbokspan, wat nooit vertrek het nie. Van die land se voorste slag- en skokboulers wat gewoonlik ‘n korterige raklewe het, het so in die slag gebly.

Die isolasiejare het wel weer op ‘n manier helde opgelewer – Clice Rice, Jimmy Cook, Spook Hanley, en dis in ‘n mate versag deur rebelletoere en oplaas, hertoetrede.

Maar in die proses het mense wie se name in dieselfde asem genoem sou word as Pollock en Proctor deur die krakies geval.

Ek word met ‘n beklemming beetgepak as ek die gevoel kry iemand gaan deur die krakies val net omdat hy op die verkeerde tyd piek.

Selfs in die voor-isolasiejare was daar hartverskeurende gevalle. Iemand wat 12de man van die Springbospan gevorder het, maar nooit gekies is nie, was toevallig die enigste Afrikaanssprekende in die 12tal, André Bruyns.

Bruyns se spesialis-kolfposisie was nommer 3, die posisie wat deur die kaptein, Ali Bacher, beset is.

Agterna is dit baie moeilik om vergelykbare statistiek te kry, byvoorbeeld om die speler in die stoel se vertoning met die speler wat piek se vertonings in ooreenstemmende tye te vergelyk. Bacher het sy hoogste toetstelling, 73, in sy eerste toets se tweede beurt behaal na hy in die eerste beurt goedkoop uitgehaal is. Sy toetsgemiddeld was 32,33.

Dit was effens beter as dié van sy voorganger, Peter van der Merwe. Van der Merwe se hoogste was 76, en in twee van sy 23 beurte was hy nie uit nie, maar sy kolfgemiddeld was steeds ‘n beskeie 25,38.

In ‘n era waar Pollock twee dubbele honderdtalle ingeryg het, en selfs die paaltjiewagter, Dennis Lindsay, teen die einde van die kofbeurt nog amok met ‘n groot honderdtal of wat kom maak het, was dit nie watwonderse vertonings nie.

My gevoel, as skoolkind, was dus dat die kapteinskap eerder as vorm, dié spelers se posisies verskans het, en beter spelers die kanse ontneem het. My bloed het behoorlik gekook toe ek een jaar statistiek in die hande kry wat daarop dui dat Bruyns inderdaad in provinsiale krieket, daardie seisoen in elk geval, beter as Bacher gevaar het.

Met Peter de Villiers se halstarrige gevasklou aan John Smit as Springbok-rugbykaptein met ‘n dosyn of wat beter hakers in die land, het hierdie sensitiwiteit weer begin kook.

En nou Mark Boucher wat skynbaar meerdag-paaltjiewagter gaan bly tot hy met ‘n paar kieries stelling agter die paaltjies gaan inneem. Val daar nie nou weer in die proses ‘n vormspeler of wat deur die krake nie?

Met ouderdom het perspektiewe ook al bietjie verander, en word sulke soort oordele nie meer so maklik gemaak nie. Boonop is die beste paaltjiewagter nie noodwendig nou in een van die bedryfsregspanne “vasgevang” nie, en moet bietjie dieper na die provinsiale en selfs klubvlak gesoek word. Want in sport tel ander faktore as die beste ongelukkig dikwels met spankeuses. Iemand kan in sekere geledere “in” wees, of “uit” wees, en dis dit.

Neem nou maar die 22jarige speler van die Vrystaat, Rudi Second. Hy het dié seisoen met kolf en handskoene op die toneel gebars, en onder sy beurte tel ‘n dubbele honderdtal, ‘n 163 en 131 nie uit nie. As aanvangskolwer is hy boonop ‘n bonus, en dat hy in Engeland as suksesvolle draaier ontpop het, is ‘n ekstra veertjie in die hoed. Maar verdien hy om die gesoute Morné van Wyk in die bedryfsregspan agter die paaltjies te vervang?

‘n Paar weke gelede sou die vraag baie meriete hê, maar in sy jongste reeks wedstryde (en hy kry minder kans as die bedryfsregspelers) was sy vertonings as kolwer minder kookwater. As plaatjiewagter is daar nie vrae nie. Intussen het Morné weer kolfbestendigheid herwin.

Sy geval word bloot genoem om te demonstreer dat spanne in die beroepsera met kontrakte sekere spelers kan inbind, en dan effe met die eier in die gesig kan sit as die gekontrakteerde spelers vorm verloor, en ‘n ander ongekontrakteerde speler begin blink.

Wat Boucher betref, is daar die min of meer objektiewe syfer van by- en loslopies in ‘n wedstryd afstaan. Dié “telling” is nie net die paaltjiewater se “skuld” nie maar gee darem ‘n aanduiding van wanneer die paaltjiewagter nie meer flink genoeg agter die paaltjies is nie. Boucher vaar in dié opsig gereeld sowat tien keer swakker as sy regstreekse teenstanders en die ander bedryfsreg-paaltjiewagters in Suid-Afrika. ‘n Goeie norm is sowat 0,002 per lopie in ‘n kolfbeurt – Boucher se “telling” is gereeld in die orde van 0,02 – 0,04.

Daar is natuurlik ook die faktor dat sommige spelers moeiliker as ander van een vlak na die volgende beweeg. Ons grysbaarde sal byvoorbeeld die geval onthou van die WP-speler, Chris Stevens, wat op klubvlak die honderdtalle ingeryg het, maar nooit op provinsiale vlak sy voete kon vind nie. En hy is verskeie kere die kans gegun.

In die Vrystaat was daar die ongelukkige Julius Truter, wat ook op provinsiale vlak naderhand weggelaat is. Wat Truter se geval veral hartseer maak, is dat by byna elke keer vroeg uit is na hy weens die ander kolwer se optrede uitgehardloop is, of met bedenklike bvp-beslissings uitgegee is.

Moontlik speel sekere sentimente ook ‘n rol. Daar was byvoorbeeld nie veel verkeerd met die “outomatiese” keuses van Willie Strydom as skrumskakel en snelbouler, en sy broer Piet as heelagter en paaltjiewagter vir die Vrystaat nie, maar hulle het eers uitgetree voor werklike spelbrekers soos Gysie Pienaar, Corrie van Zyl, Allan Donald, Barry Wolmarans en ander die vlak effens hoër kon neem. Veral Willie se insluiting op skrumskakel was naderhand onder ‘n wolk met spelers soos Pieter Booyens wat kop en skouer bo hom uitgestaan het. Willie se gereelde beduie aan sy losskakel, later die befaamde Jackie Snyman, om nader te staan sodat hy binne “trefwydte” is was ‘n verleentheid.

Die W P-krieketbase van destydse sal dit waarskynlik ontken dat die nete klap, maar die persepsie bestaan dat Afrikaanssprekende spelers bykans tien keer beter as ‘n Engelssprekende speler moes wees om plek in die WP-span te haal. Selfs Kepler Wessels se Australies-gebore vrou het Kepler se skuif van die WP na die OP hieraan toeskryf. ‘n Vinnige ontleding van klubkrieket uit verskillende eras dui inderdaad daarop dat die WP se klubkrieket deur Afrikaanse uitblinkers oorheers is, maar dat die tydperke wat ‘n Afrikaanse speler die span kon haal min, en ver uitmekaar was.

‘n Mens kan bloot wonder hoeveel blink diamante het so deur die krake geval.

Vandag vertel Louis Vorster se eersterangse loopbaangemiddeld van net meer as 33 lopies nie die volle verhaal van ‘n paar onbeloonde skitterseisoene en ‘n hoogste telling van 188 lopies nie. Benewens ‘n handvol honderdtalle het hy ‘n kruiwavrag 50-talle ingeryg. Dat hy nou op sy “oudag” ‘n terugkeer maak en vir Namibië speel, help blykbaar nie sy eersterangse gemiddeld nie.

Lee Barnard wat as jong sensasie vir Transvaal die honderdtalle ingeryg het, het wel uiteindelik Proteakleure gekry, maar was toe al duidelik nie meer op piekvorm nie. Sy eersterangse rekord is nog meer beskeie as dié van Vorster, met ‘n gemiddeld van byna 26 en ‘n hoogste telling van 138.

Colin Ingram het reeds ‘n paar kanse vir die Proteas gekry – waarskynlik voortydig. Noudat die jongman sy vorm behaal, word hy nie gekies nie.

‘n Kolwer se sukses is dikwels grootliks in sy kop. Mors met sy kop, en sy talent kan verdamp. Jacques Rudolf se aanvanklike sprong na toetskieket is erg geknou met ‘n omstrede kwota-inmenging – juis toe hy op sy piek was., Hy dra vandag nog die sielkundige skade daarvan.

Die krieketkeurders sit dus met veel meer te kampe as om bloot te bepaal watter ou hout moet nou uitgesny word. Dit behels ook die besluit oor watter speler is nou die regte speler om toe te tree, en boonop of dit die regte tyd is. Kies hom te gou, kan die skade blywend wees. Kies hom te laat, en die skade is reeds gedoen.

Uiteindelik is dit ook die kolwer self wat sterk in die kop moet wees. As Hashim Amla se kop nie sterk was nie, het hy met sy ongelukkige toetrede tot toetskrieket gevou. Herschelle Gibbs is nog ‘n speler wat waarskynlik net-net genoeg kanse gekry het om die groot sprong gewoond te raak.

Die kommentaarhokkies is vol voormalige spelers wat ‘n kans gekry, en in die debuuttoets ‘n honderdtal geslaan het, maar daarna nie weer die hoogtes kon herhaal nie. Na ‘n rukkie verdwyn hulle, of word gewoon “spanvullers” op laer vlakke.

‘n Laaste opmerking oor wanneer ‘n speler reg is of nie: Die geskiedenis is vol spelers wat op skool en selfs later spesialiskolwers was, en later spesialisboulers geword het, of omgekeerd. (Peter van der Merwe was ‘n voorbeeld van ‘n speler wat heeltemal “oorgeslaan” het). Hulle is in ‘n sekere sin gelukkig want hulle het op ‘n vreemde manier ‘n tweede kans gekry. Denys Hobson is so ‘n voorbeeld, wat boonop op sy “oudag” weer kolfvorm herwin en ‘n veelsydige speler was. Sommige spelers het later bloot hul veelsydigheid ontwikkel – sodat keurders langtand byt as die veelsydigheid weens ‘n besering geknou word. Clive Rice was ‘n kolwer wat bietjie kon boul, wat skielik as ‘n snelbouler van formaat ontpop het. Toe hy ‘n rugbesering opdoen, en hy bloot weer op kolfwerk wou fokus, was hy half vererg dat gesinspeel kon word dat hy dalk nie as kolwer alleen in die span hoort nie.

Mike Proctor was waarskynlik die interessantste “omskakelaar” wat wel nooit twee linkerhande met die kolf gehad het nie, maar later ‘n meer bestendige kolwer geword het en in ‘n stadium selfs ses agtereenvolgende eersterangse honderdtalle gemoker het, en wat na sy kniebesering wat hom as snelbouler gepootjie het, bloot na draaiboulwerk oorgeslaan en steeds onder die paaltjies bly maai het. Min mense was tydens sy erwoestingswerk as snelbouler bewus daarvan dat Proctor goed kon kolf tot hy vir die WP teen die besoekende Australiërs 155 lopies gemoker het. Van sy honderdtal na sy 150-tal het iets soos 18 minute geduur, en in een boulbeurt het hy van die latere Aussie-toetsdraaier, Ashley Mallet, vyf sesse en ‘n vier getimmer.

Veelsydigheid haal immers die druk af van ‘n kolwer om ten alle koste met die kolf te presteer. En juis, met minder druk, vloei die lopies.

Maar die hartseer-oomblik bly onafwendbaar, wanneer die speler self moet weet wanneer hy moet uittree, of uit die hoër vlak moet uittree, sodat hy die keurder die verleentheid spaar om hom te moet pos.

Herman Toerien