Subscribe by Email

Vulkaan lewer asemrowende foto’s op

Omtrent net mooi vyftig jaar na sy vorige uitbarsting het die Puyehue-vulkaan in Chili weer so gemaak. Die mooiste foto’s oor die uitbarsting word per internet versprei.
Maar vyftig jaar gelede se uitbarsting word om ‘n heel ander rede onthou – die grootste aardbewing wat nog ooit gemeet is. Dié aardbewing het ‘n magnitude van 9.5 gemeet, dus aansienlik sterker as die onlangse aardbewing van 9 wat Japan getref het. Verskeie reuse tsunami’s het ontstaan, en een dorp is heeltemal van die aardbodem geveeg. Tog was die dodetal minder as 6 000.
Die jongste vulkaniese uitbarsting volg net meer as ‘n jaar na Chili deur nog ‘n grote, een wat 8,8 gemeet het, getref is.
Wetenskaplike vermoed daar is minstens ‘n onregstreekse verband tussen dié aardbewing en die uitbarsting. Sedert die uitbarsting was daar minstens vier redelike skuddings van ongeveer magnitude 4, en heelwat meer ligte trillings.
Dat daar ‘n verband tussen dié aardbewings en die vulkaan is, of kan wees, is maklik om te verstaan. Puyehu maak deel uit van ‘n vulkaniese groep wat geleë is bo die plek waar die groot Liquiñe-Ofqui-aardkorsfout en ‘n kleiner aardkorsfout mekaar kruis. In die omgewing is verskeie warmwaterbronne en selfs ‘n aanleg waar geotermiese krag opgewek word.
Op 2 Januarie vanjaar was daar ‘n aardbewing van magnitude 7.1 in die omgewing, en die vorige dag een van 7 in Argentinië.
Herman Toerien