Subscribe by Email

Vulkaan dood duisende in 13de eeu – maar watter vulkaan?

‘n Vulkaan wat in ongeveer die jaar 1200 die dood van 15 000 mense of dalk selfs meer in Londen, en duisende ander elders ter wêreld veroorsaak het, het tot agt keer meer swaelneerslae veroorsaak as wat Krakatoa in 1883 in die atmosfeer vrygestel het.

Dit was waarskynlik een van die grootste vulkaniese uitbarstings die afgelope 10 000 jaar.

Maar waar was hierdie uitbarsting?

Wetenskaplikes is seker dat dit naby of op die trope moes wees, omdat die neerslae wat daarmee geassosieer word weerskante van die pole gevind word, en onder meer in die yslae op beide pole wat na daardie tyd teruggevoer word, gevind word. Ook die neerslae in die Malawi-meer en elders dra die spore van dié uitbarsting.

Die omvang van die sterftes wêreldwyd is egter onlangs eers besef. Toe argeoloë in die 90-gerjare op ‘n massagraf in Londen met duisende skedels afgekom het, is eenvoudig aanvaar dat hulle slagoffers van die swart Dood van 1315 – 1317 was. Nou toon navorsing dat hulle sowat ‘n eeu vroeër dood is.

In 1783 het ‘n groot vulkaniese uitbarsting ‘n groot swaelwolk veroorsaak wat byna ‘n jaar lank oor Europa gehang het, en duisende lewens geëis het.

‘n Vulkanoloog, Bill McGuire, sê die 13de eeuse uitbarsting was veel groter. Dit sou die temperatuur met sowat 4 grade laat daal het. Oeste sou misluk, en mense sou van hongersnood en peste sterf.

Uit geskrewe rekords uit dié tyd in Londen blyk dit dat die mense geen idee gehad het van wat groot donkerte veroorsaak het nie, en dit aan ‘n oordeel van God toegeskryf het. In 1258 het ‘n monnik geskryf: “The north wind prevailed for several months… scarcely a small rare flower or shooting germ appeared, whence the hope of harvest was uncertain… Innumerable multitudes of poor people died, and their bodies were found lying all about swollen from want… Nor did those who had homes dare to harbour the sick and dying, for fear of infection… The pestilence was immense – insufferable; it attacked the poor particularly. In London alone 15,000 of the poor perished; in England and elsewhere thousands died.”

Indonesië, Meksiko en Ecuador word as die mees waarskynlike lande beskou waar hierdie uitbarsting sou plaasgevind het.

Met Krakatoa se uitbarsting is byna 40 000 mense dood, en is die knal tot 4 800 kilometer ver gehoor.

Hoewel die klein ystydperk gewoonlik effens later gedateer word, toon uitgrawings op Baffineiland en Ysland dat somerkoue en ysuitbreiding teen 1275 skerp begin toeneem het. Die klein ystydperk word in verband gebring met die Nordiese ontruiming van hul Groenlandse kolonies, en dus ook in Vinland (Noord-Amerika).

http://www.guardian.co.uk/uk/2012/aug/05/medieval-volcano-disaster-london-graves

Herman Toerien