Subscribe by Email

VSA se “viering” van “Constitution Day” – lesse vir Suid-Afrika

Hoewel die Suid-Afrikaanse grondwetskrywers ook by die Amerikaanse grondwet kers opgesteek het, het ander lande se grondwette, byvoorbeeld dié van Indië en Duitsland, en selfs Kanada waarskynlik ‘n groter rol gespeel, veral ten opsigte van die vertolking van die Handves van menseregte.

Amerika het pas “Constitution Day” gevier ter herdenking van die ondertekening van die grondwet in 1787. Minder as ‘n eeu later het die Vrystaatse Republiek sy grondwet op die Amerikaanse geskoei en die status van modelstaat verwerf.

Vanjaar twis die Amerikaners buitengewoon baie oor hoe goed of sleg die grondwet is, en oor of die president en federale regering nie méér magte vir die sentrale owerheid opeis as wat die grondwet toelaat nie. Die liberale eis een vertolking op, die tea party ‘n konserwatiewe vertolking. Die tea party se vertolking – die afgelope twee jaar – kom ook onder skoot deur die Constitutional Acciantable Centre, wat van die aansprake as soms selfs absurd beskryf.

Die gedagte dat die vertolking van die grondwet baie met ideologie en politiek te make het, is in die VSA maar ook elders soos in Suid-Afrika nie vergesog nie. Belangrike besluite oor grondwetlikheid word in die VSA deur die Supreme Court geneem, en die sittende president beïnvloed in sy termyn van die aanstellings van die regters. So het kerke en Christen-drukgroepe duim vasgehou dat pres. Goerge W. Bush nog betyds ‘n belangrike aanstelling sou kom maak wat aborsie op keuse tersyde sou stel. So realisties was die verwagtinge dat verskeie deelstate reeds anti-aborsiewetgewing begin aanvaar het, en aborsieklinieke reeds reëls met Indiaanse reservate begin aangaan het om hul klinieke na die reservate – wat oor hierdie aspek onder sentrale wetgewing val – te verskuif. Toe Barack Obama nuwe president word, het die Christian Coalition of America dadelik verklaar die stryd teen aborsies is 20 jaar teruggesit. Obama het dadelik die omstrede Sonia Sotomayer op die Federale regbank aangestel het, wat onder meer pas tevore in ‘n laer hof ‘n omstrede minderheidsuitspraak oor ‘n regstellende aksie-saak gelewer het.

Met die aanwysing van regter Mogoeng Mogoeng as hoofregter, het verskeie kommentators kommer uitgespreek oor die regter se verbintenis tot die grondwet, omdat hy onder meer glo pro-doodstaf is. Terwyl daar heelwat bedenkinge oor Mogoeng is, is dit egter onwaar dat die Suid-Afrikaanse grondwet die toepassing van die doodstraf verbied, dis bloot ‘n ideologiese vertolking van die grondwethof en dus geldende reg. In die VSA, waar die grondwet oor die reg op lewe basies eendersluidend is, pas 34 deelstate die doodstraf toe. In 1999 is ‘n rekordgetal van 99 mense vir die VSA se moderne geskiedenis tereggestel. Texas voer sowat ‘n derde van die VSA se teregstellings uit, en dié deelstaat handhaaf ‘n gemiddeld van 21 teregstellings per jaar.

Die doel van ‘n grondwet, skryf Wes Benedict van die Libertarian Party, is dat dit ‘n regering bind en suiwer meerderheidsregering keer.

Na afloop van die Julius Malema-haatspraakverhoor het van die ANC-jeugligaleiers gekla dat die howe verhinder dat die regering volgens die meerderheidswil regeer – iets wat in die politieke wetenskap as die diktatuur van die meerderheid bekend staan.

‘n Meestersverhandeling (2010) van die Matie, Charl Swart, Public Opinion on Land Reform in South Africa behandel onder meer die verskillende persepsies van demokrasie in Suid-Afrika, en onderskei in hoofsaak oor die liberale en die bevrydings-persepsies. Verskeie ander, soos die korporatiewe of volkeregtelik-gesinchroniseerde demokrasieë van Indië, Nieu-Seeland, België, Spanje en ander wat vir heterogeniteit ontwerp is, kan hierby gevoeg word. Wat belangrik is, is dat verskillende persepsies in Suid-Afrika polarisasie in die hand werk, nie net oor grondhervorming nie maar oor ‘n wye front.

Met die aanvaarding van Suid-Afrika se huidige grondwet is dit beskryf as ‘n grondwet wat so wyd vertolk kan word dat ‘n wa en span osse daarin kan draai. Dit is as wenslik beskou sodat die inhoudelike deur wetgewing, die presedentereg en konvensie kon ontwikkel. Daar was immers onderhandelde grondwetlike grondwetlike beginsels.

As die Amerikaners na amper 250 jaar nog oor die grondwet kan bôlle rol, is dit te wagte dat Suid-Afrikaners dikwels lang lippie gaan trek, veral solank mense wat van beter behoort te weet die howe as die opposisie beskryf.

Herman Toerien