Subscribe by Email

VSA oorweeg vlugspergebied oor Sirië

Die woordvoerder van die Wit Huis, Jay Carney, het ‘n mediakonferensie in Washington meegedeel dat die SA en sy vennote alle moontlike vorme van bykomende druk op die Siriese regering van pres. Bashar al-Assad oorweeg en ondersoek. Hy het bygevoeg dat die VSA nie meer die moontlikheid van ‘n vlugspergebied oor Sirië uitsluit nie.

Met die toepassing van ‘n vlugspergebied oor Libië het tweespalt in die internasionale gemeenskap ontstaan oor die interpretasie van die doktrine. Navo het dit vertolk as die aanwending van alle middele om die veiligheid van vliegtuie te verseker wat die lugversperring toepas – wat dus ook die uitskakeling van alle bedreigings op die grond soos lugafweer en bevelsentrums insluit.

Die opposisiemagte in Sirië versoek sal ‘n geruime tyd die toepassing van vlugspergebiede veral aan die grense met Jordanië en Turkye, berig die Berliner Umschau.. Assad se magte maak onder meer van vliegtuie en gevegshelikopters gebruik om dood en verwoesting onder opstandelinge en burgerlikes te veroorsaak.

Intussen het die 56 lede van die Organisasie van Islamitiese State vandag met ‘n vergadering in Mekka begin. Na verwagting sal besluit word om Sirië se lidmaatskap te beëindig hoewel dié voorstel blykbaar deur Iran teengestaan gaan word. Sirië is in November verlede jaar reeds uit die Arabiese Bond geskop.

Die lot van Mianmar se minderheid Moslems sal na verwagting ook onder die loep geneem word.  

 

 

Herman Toerien