Subscribe by Email

Vrystaatse straatname in spervuur

Strate in die Vrystaat kan oor ‘n jaar ander name hê, berig die Free State Times in ‘n voorbladberig, en opposisiepartye het ontevrede op dié vooruitsig gereageer.

Die jongste pleknamelopie kom na Premier Ace Magashule op Brandfort, tydens die oorhandigingseremonie van ‘n huis, die kwessie geopper het. Die doel van die straatnaamsveranderinge is om die provinsie van name wat met die apartheidsverlede geassosieer word, te stroop en met prominente figure uit die anti-apartheidstryd te vervang.

‘n Komitee sal in die lewe geroep word, en onder die leiding van twee LUR’e staan, mnre. Dan Khothule van Kuns en Kultuur en Seiso Mohai van Finansies.

Volgens ‘n woordvoerder van die provinsiale regering sal die publiek eers inspraak kry voor die komitee se werk gefinaliseer word.

Die Vrystaatse Pleknamekomitee het al verskeie veldtogte van stapel gestuur om pleknaamveranderings te bewerkstellig, telkemale skynbaar oorhaastig, en met prosesse wat dan grootliks in die sand uitgeloop het.

Dit het Magashule al verskeie kere laat opmerk dat die Vrystaat net enkele plekke soos ThabaNchu het wat amptelik ‘n swart naam het. Die naam van Bloemfontein is al telkemale gelys vir veranderings, met die mees omstrede voorstel dat dit na Thabure verander word. Volgens die Fifa-bepalings is die wêreldbekertoernooi se wedstryde in Bloemfontein in Mangaung aangebied.

Voortrekkerstraat in Bloemfontein is na Mandelarylaan verander. ‘n Voorstel van die ANC-beheerde raad dat Voortrekkerstraat na Mandelarylaan-oos, en Zastronstraat na Mandelarylaan-wes verander word, is deur die pleknamekomitee afgekeur. Nie net Voortrekkerstraat nie, maar ook Kimberleyweg en die verlenging verby Langehovenpark is hierop na Mandelarylaan verander.

Uit die Free State Times se berig kan afgelei word dat die “apartheidsverlede” veel verder as die tydperk van NP-bewind terugstrek, en byvoorbeeld die Voortrekkerera, en die era van die Vrystaatse Republiek insluit. Dit sou lynreg teen die versoeningsoogmerke van die aanhef van die Grondwet en die grondwetlike beginsels wat by Kemptonpark onderhandel is indruis, en so ‘n voorneme sal in alle waarskynlikheid polarisasie verder laat ontbrand. En ‘n hele paar miljoen rand kos.

Herman Toerien