Subscribe by Email

Vrystaat vrot van die Slenkdalkoors

slenkdalkoors

Derduisende vee het die afgelope week gevrek in die Vrystaat. Dr. Louis van Rooyen, adjunk-direkteur: veeartsenydienste in die Vrystaat, sê die koorssiekte breek nou oral in die Vrystaat uit – oral langs die Vaalrivier tot in die woonbuurt Zamdela by Sasolburg. Dit gaan aanhou tot die eerste ryp én selfs daarna.

Entstof is bleikbaar gister verkry en op Bethlehem afgelewer, sodat begin kan word met ‘n inentings veldtog. Slegs ongeveer 400 duisend dosissie entstof is beskikbaar vir die ongeveer 8 miljoen stuks vee in die Vrystaat.

Mnr. Hennie Wagner, voorsitter van die distriksboere-unie op Petrusburg, sê slenkdalkoors maai hier onder skape en beeste. Volgens Wagner is die hele distrik al besmet. Die vrektes beloop al “derduisende” skape.

Adv. Gielie Nieuwoudt, voorsitter van die Limousine-beestelersgenootskap van die plaas Graspan by Petrusburg, het ook vermoedelik slenkdalkoors opgedoen. Hy was die afgelope week siek. Sy vrou, Susan, het gister gesê dit gaan heelwat beter met hom, hoewel hy nog siekerig is. Die siekte is nog nie bevestig nie, omdat die patoloë oorlaai is.

Dr. Molefi Sefularo, adjunk-minister van gesondheid, het Donderdag gesê dit is bevestig dat 32 mense reeds die siekte opgedoen het. Van hulle is 31 in die Vrystaat. Twee mense is al dood – een in die Vrystaat en een in die Noord-Kaap.