Subscribe by Email

Vrystaat se veldbrandgebiede moontlik rampgebiede, en Pioneer wil Pannar oorneem.

Die Parlement het ‘n mosie deur die DA goedgekeur dat die Vrystaatse provinsiale regering die gebiede wat die swaarste deur veldbrande geraak word, as rampgebiede verklaar.

Die mosie bepaal ook dat die provinsiale regering die landbousektor moet bystaan totdat die weiding herstel het. Die departement van landbou, bosbou en vissery sê meer as 236-duisend hektaar weiding is vanjaar in veldbrande in die Vrystaat verwoes.

Brande het hierdie maand alleen bykans 150-duisend hektaar weiding verwoes. Die DA-lid van die nasionale raad van provinsies, Darryl Worth sê die Vrystaat kan dit nie bekostig om nóg poste in die landbousektor te verloor nie.

In verwante nuus gaan die landbou-afdeling van DuPont, Pioneer Hi-Bred  ‘n Suid-Afrikaanse saadmaatskappy koop in ‘n poging om sy markaandeel in mielieproduksie in Afrika te bevorder.

Pioneer se koop van die meerderheidaandeel in Pannar is die jongste stap in ‘n stryd deur die grootste landboumaatskappye om ‘n aandeel in die Afrika-mark te bekom.

Dit volg te midde van wêreldwye kommer oor voedselsekerheid en bevolkingsgroei. Die besonderhede van die transaksie is nie bekendgemaak nie. Die transaksie is egter onderhewing aan goedkeuring deur die Suid-Afrikaanse mededingingskommissie en ander reguleerders en behoort teen vroeg aanstaande jaar deurgevoer te word.

Pioneer sê hy sal Pannar se bestuur, werknemers, fasiliteite en handelsmerke behou. Pannar se hoofkantoor is in Greytown in KwaZulu-Natal.