Subscribe by Email

Vrystaat Landbou veroordeel plaasaanvalle

Suid-Afrika bevind hom meer en meer in ‘n moddergat na nog ‘n sinnelose aanval op die Amerikaanse burger van Ladybrand op die Lesothogrens op 13 Augustus 2012.

Onttrekking van buitelandse kapitaal uit die Vrystaat en die res van die land is ‘n resep vir erge armoede en plaas ‘n vraagteken oor die toekoms van Suid-Afrika. Werkloosheid en gepaardgaande misdaad is ons voorland in die provinsie. Die versteuring van die Vrystaatse ekonomie, deur die onttrekking van buitelandse en ander beleggers, sal verreikende gevolge vir die inwoners van die provinsie hê asook landwye ontwikkeling striem. Buitelandse asook binnelandse beleggers word afgeskrik deur die hoë vlakke van geweld en misdaad.

Die geweld en misdaad in die Vrystaat en in ander provinsies word selde of ooit deur die leierskap van die regering veroordeel. Misdaad van watter aard ookal, is teenproduktief vir werkskepping. Dit is onverstaanbaar dat werksgeleenthede geskep moet word, selfs planne word in die parlement voorgelê, maar die misdaad, moorde ens. word nie veroordeel en aangespreek nie.

Polarisasie tussen gemeenskappe en rassespanning verdiep met sinnelose aanvalle op die landelike gemeenskappe. Die meerderheid van gemeenskappe streef na ‘n misdaadvrye ideaal, maar leef talle landelike bewoners, boere en plaaswerkers in vrees oor wie gaan die volgende slagoffer wees.

Sedert die bekendstelling van die nasionale landelike beveiligingstrategie te Bethlehem gedurende Junie 2011 het daar nog geen implimentering in die Vrystaat plaasgevind nie. Die prioritesering van landelike misdaad het die hoop vir ‘n veiliger omgewing laat opvlam, dat misdaadbekamping en voorkoming, die ideaal sou verwesenlik het.

Die reservistebeleid en die aanstelling van reserviste vir die landelike gebiede het sedert die uitfasering van die kommandostelsel ses jaar gelede nog geen vordering getoon nie.

Die vraag word gevra of die owerheid nie doelbewus wegskram deur die belange van landelike bewoners te ignoreer nie.

Die omvang van veediefstal in die Vrystaat en ook op die Lesothogrens is besig om volhoubare voedselproduksie te kortwiek ongeag dat hierdie misdaad deur die Parlement as prioriteit geklassifiseer is. Met ‘n tekort aan hulpbronne by veediefstal-eenhede gaan hierdie situasie toeneem.

Die SAPD sal moet wakker skrik en die realiteite aanspreek om ‘n verskil te maak. Die polisielede wat betrokke was by die vinnige arrestasie van die Amerikaanse burger se aanvallers verdien die grootste lof. Ongeag beperkte hulpmiddels doen hul nog hul werk nougeset en met ‘n passie.

Vrygestel deur die Beeldbou asook Wet en Orde Komitees van Vrystaat Landbou:

Kobus Breytenbach