Subscribe by Email

Vryheidsdag: Ope brief van Afrikanerbond aan Zuma

Pieter Vorster, voorsitter van die Afrikanerbond

Pieter Vorster, voorsitter van die Afrikanerbond

‘n Jaar van Nasionale Dialoog – ʼn Ope brief aan die ANC – Deur Pieter Vorster, voorsitter van die Afrikanerbond,

‘n Nasionale Dialoog dringend noodsaaklik ten opsigte van die verstaan en interpretasie van die inhoud van die Suid-Afrikaanse Grondwet

Aandag: Mnr Jacob Zuma – President van die ANC

Mnr Gwede Mantashe – Sekretaris-Generaal van die ANC

Waar Suid-Afrika op 27 April 2011 die 17e jaar van demokrasie vier, word dit egter gedoen met ‘n breë Suid-Afrikaanse gemeenskap wat al hoe meer gepolariseerd van mekaar is, wat soms in konflik met mekaar staan en wat al hoe meer in eie belang optree ten koste van die nasionale belang.

Vryheidsdag moet gesien word teen die agtergrond van ‘n minderheid en meerderheid wat mekaar, vanuit ‘n posisie van konflik, kon vind rondom ‘n onderhandelingstafel. Uit hierdie onderhandelinge is ‘n nasionale akkoord bereik wat neerslag gevind het en geformaliseer is in ‘n oorgangsgrondwet en die finale grondwet van 1996. Alhoewel nie volmaak nie, bied die grondwet voldoende ruimte aan enige regering vir wye besluitneming en word burgerlike regte voldoende beskerm.

Na 17 jaar van demokrasie, bring ‘n bestekopname van die huidige toedrag van sake egter die donker sy van meerderheidsoorheersing na vore. Dit het duidelik geword dat die regerende party se beleidsuitvoering en uitsprake deur sommige individue die bepalings en ideale van die SA grondwet systap en soms ondermyn.

Waar die SA grondwet baie duidelik is oor die nie-rassige aard van die SA samelewing, word Suid-Afrika al hoe meer ‘n samelewing wat deur rassegrense en rasbepalings gedefinieer word. Hiervan is regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, kwotas en vele meer, alles in die naam van transformasie, maar net simptomaties.

Waar die SA grondwet baie duidelik is oor demokratiese waardes, sosiale geregtigheid en fundamentele menseregte word dié demokratiese waardes daagliks ondermyn deur strydende faksies in die regerende party wat staatstrukture en staatsinstellings misbruik om interne geskille dienstig te wees. Ook fundamentele regte, soos eiendomsreg, word ondermyn deur onverantwoordelike eise tot nasionalisering van grond, myne en banke.

Waar die SA grondwet baie duidelik is oor ‘n verenigde Suid-Afrika, met erkenning van diversiteit, word die diversiteit soms geminag en in baie gevalle selfs verdag gemaak. Hiervan is die voortdurende naamsveranderinge van dorpe en strate en die minagting van die grondwet se taalreëlings maar net enkele voorbeelde.

Na 17 jaar van demokratiese regering het dit duidelik geword dat die SA grondwet soms ondergeskik staan aan die ANC se beleid en uitvoering volgens die Nasionale Demokratiese Revolusie. Dit is die grootste enkele gevaar vir die Vryheid van alle Suid-Afrikaners, wat deur ‘n onderhandelde skikking bereik is. Daarom het dit tyd geword dat die ANC as regerende party, die breë Suid-Afrikaanse samelewing en in die besonder minderhede in Suid-Afrika, weer met mekaar gesprek voer oor ons verstaan van ons grondwet, die waardes daarin vervat en die praktiese realiteit vandag in Suid-Afrika.

Ons versoek vir ‘n nasionale dialoog kan ‘n vertrekpunt wees sodat daar opnuut waardering kan kom vir die geskiedenis van alle Suid-Afrikaners, aangesien die geskiedenis soms selektief aangewend word om konflik aan te moedig. Die uitkoms van ‘n nasionale dialoog kan dan weer ‘n nuwe sosiale akkoord wees waarin die grondwetlike bepalings opnuut bevestig word, daar konsensus is oor die interpretasie van alle grondwetlike bepalings en voorskrifte, waarna die grondwet weer sy regmatige plek kan opneem as die hoogste reg waaraan beleid en openbare optredes getoets kan word.

Na 17 jaar van demokrasie word Vryheidsdag gevier, maar is dit egter met ‘n mate van beklemming en ongerus. Ons beroep is dus dat die regerende party in die komende jaar die volle diversiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing sal betrek by ‘n nasionale dialoog om uitvoering te gee aan die ideale van die SA Grondwet. Eers as die ideale van die SA grondwet algemeen aanvaar en uitgeleef word, kan Vryheidsdag ware betekenis kry. Met die nodige dringendheid kan Vryheidsdag in 2012 reeds weer nuwe betekenis en inhoud hê. Dit verg egter die nodige politieke wil.