Subscribe by Email

Vryheid van meningsuiting onder die loep

In die Nederlandse koerant, Trouw, verskyn ‘n interessante resensie oor ‘n nuwe boek van die Britse historikus, Jonathan Israel. Dis egter nie so seer die inhoud van die boek, Democratic Enlightenment, wat uit die bespreking die hardste spreek nie, maar die bespreking en die agtergrond deur die resensent self. Trouw plaas heel gepas die resensie van Sebastien Valkenberg onder die hofie, Religie en filosofie, en wel onder die titel: “Is er inderdaad sprake van een schadelijk populisme?”
Waar die skrywer, Israel, die herkoms van vrye denke in sy boek baie ver terugvoer, en meld dat dit werklik eers tydens die Franse revolusie deur die beperkings kon begin breek, is Valkenberg veel meer kontemporêr ingestel.
Hy som die filosofiese vraag op in ‘n stelling van die vermoorde populistiese politikus, Pim Fortuyn: “Ek sê wat ek dink.”
Die grondliggende vraag is of hierdie liberale vryheid nie meer kwaad as goed kan doen nie, ‘n vraag wat al hoe meer in Nederland gevra word, en ook reeds in die hofsaak van Geert Wilders, Fortuyn se politieke opvolger, se abortiewe verhoor vir “haatspraak” neerslag gevind het.
Nederland en Suid-Afrika se vrae oor meningsuitdrukking kan nie heeltemal vergelyk word nie. Nederland deel die voorste posisie op Verslaggewers Sonder Grense se persvryheidsindeks met ‘n paar hoofsaaklik naasliggende lande. Veelparty- en grondwetlike demokrasie het reeds goed beslag gekry, en almal verstaan die verskil tussen regering en regerende party, asook die skeiding van magte.
Suid-Afrika, daarenteen, spook met wetgewing wat toegang tot inligting probeer beperk, en die gevaar inhou dat korrupsie nog makliker onder die mat ingevee kan word. Korrupsie het volgens baie endemiese afmetings in Suid-Afrika aangeneem, en selfs die Openbare Beskermer het die poging om dit te bekamp vergelyk met die dra van water met emmers na die bokant van ‘n waterval. Suid-Afrika het ook op die persvryheidsindeks na die 38ste posisie teruggesak, en is lank nie meer die mees persvrye land in Afrika nie. Pas is joernaliste tydens die eerste dag van Julius Malema se dissiplinêre verhoor saam met die polisie onder die klippe gesteek, en ‘n paar het kolhoue weg.
Boonop dui opmerkings van selfs die hoogste regeringslui dat die media, en selfs die howe, die ANC se grootste politieke opponent is, daarop dat die konsep van demokrasie nog nie mooi begryp word nie, en dus nie genoegsaam veranker is nie.
En Suid-Afrika is, anders as Nederland, ‘n hoogs heterogene land waar die polarisasievlakke groei – twintig jaar na die laaste apartheidswetgewing uit die wetboek verwyder is.
In kort: Nederland kan nou met betreklike veiligheid filosofeer oor die intrek van bykans onbeperkte vryhede, Suid-Afrika stel dit die hele konsep van demokrasie en die bekamping van korrupsie in gevaar.
Natuurlik skreeu die “sensor” van menings teen die mees basiese beginsel van liberalisme, wat vrye uitdrukking insluit. ‘n Handige strooipop is dan om te argumenteer dat die “kwaliteit” van andersdenkes se menings verskil van die eie, en dus nie dieselfde aanspraak kan maak op verspreiding nie.
Ook in Suid-Afrika gaan stemme op dat een denkskool (liberaal) so ‘n monopolie oor (liberale) denke het, dat andersdenkende geluide verswyg word of gewoon afgekraak word. Die liberaal is dus net liberaal in die uitleef, solank die menings wat vry versprei word met sy eie klop.
Dit is waarskynlik wat Rhoda Kadalie, die rissiepit-kommentator in gedagte gehad het toe sy geskryf het politieke korrektheid die diktatuur van die liberalis is.
Suid-Afrika is nie uniek nie. ‘n Vorige leier van die Kanadese Christian Heritage Party het lank gesmous met ‘n Amerikaanse verslag wat daarop dui dat die gemiddelde Amerikaanse joernalis liberaler as die gemiddelde Amerikaner is (teen die agtergrond dat sy party so min nuusdekking genereer dat opnames daarop gedui het dat die meeste Kanadese van die bestaan daarvan onbewus was).
Onlangs, toe ‘n Gallup-peiling daarop gedui het dat pres. Barack Obama se peiling na die laagste vlak tot dusver gedaal het, het die Amerikaanse drukgroep, die Christian Coalition of America sommer by voorbaat in sy nuusbrief geskryf dat Amerikaners daardie nuus nie in hul koerante te lese gaan kry nie. Die grootste deel van die publiek mag Obama-sat wees, maar nie die meeste joernaliste nie.
‘n Koerant het die reg om te dra wat die koerant se eie filosofie en uitgangspunt pas, maar as dit selektief word, al is dit om die liberale boodskap uit te dra, is dit inherent ontrou aan liberalisme.
“De uiterste consequenties van het universele karakter van de Verlichting blijken nog niet altijd eenvoudig te accepteren. Échte pluraliteit betekent dat er ook buitenissige of hysterische meningen te beluisteren zijn. Een zekere dosis lelijkheid is inherent aan een heus publiek debat. Israel maakt dat inzichtelijk aan de hand van de Verlichte zeventiende eeuw. Het zou dan ook een vergissing zijn het maatschappelijke gekrakeel als een typisch hedendaags fenomeen te zien.”
Kortom, om konsekwent liberaal te wees, beteken om nie ‘n dun vel te hê nie, want dan moet die argumente van ander gerespekteer word al is die boodskap vir die ontvanger pynlik.
Maar tog, is daar grense in selfs ‘n werklike liberale omgewing, of kan elkeen soos Fortuyn maar sê wat hy dink?
Artikel 16 (2) van die Suid-Afrikaanse grondwet plaas ‘n paar duidelike beperkings: 1) propaganda vir oorlog, 2) die aanstigting van geweld, 3) en voorspraak vir haat wat gebaseer is op ras, etnisiteit, geslag, godsdiens en wat bedoel is om kwetsend te wees.
‘n Mens moet ‘n paar wye draaie deur die internasionale reg en reeds gelewerde uitsprake in Suid-Afrika gaan maak om ‘n duideliker beeld te vorm van wat bedoel word. Die ANC se probleme om sy probleemkind Malema hok te slaan, kan heel moontlik daaraan toegeskryf word dat die ANC sy volle gewig by Malema ingewerp het toe hy aangekla is van haatspraak na aanleiding van die sing van die liedjie: “Maak dood die boere.”
Vir die meerderheid Suid-Afrikaners, en volgens peilings vooraf, wit, swart en bruin, kom die liedjie op haatspraak neer. Die ANC voer ‘n ander argument aan.
In die finale instansie: Die internet word nie in Valkenberg se resensie bespreek nie. Tog laat dit, en die gesigloosheid wat dit aan papbroek-meningsuiters bied om ander sleg te sê, ‘n nuwe wêreld oop om gedagtes te versprei wat onlangs nog baie moeilik in omloop sou kom.
Die een se reg om sy mond uit te spoel is vir die ander skadelike populisme. Soos Israel via die pen van Valkenberg vra: “Alle reden dus om victorie te kraaien? Dat ook weer niet.”
In Suid-Afrika – soos elders in die wêreld – word die internet ongelukkig erg misbruik om doodgewone vitrioel te versprei. Dit dra ongelukkig by daartoe om ’n weerstand te laat ontwikkel om alle menings in die konteks van die reg op vrye meningsuitdrukking die lig te laat sien. Om elke krieseltjie laster en haatspraak wat via die internet gepubliseer word op ’n streep aan die regstelsel te onderwerp soos die geldende reg eintlik vereis, eerder as ’n blanko onderdrukking van menings buite die politiek korrekte omgewing af te dwing is ’n onbegonne taak.
Aan die ander kant, na die Malan – Van Niekerk-voorval, het ‘n groep skrywers waaronder Breyten Breytenbach, gevra dat alternatiewe denke ook ruimte moet kry, om die opbou van frustrasievlakke te beperk. ‘n Mate van ewehandigheid dus – wanneer die konteks van die Malan-indident opgeweeg word teen die optrede van ‘n bekende DA-politikus wat op ‘n ander kampus die middelvinger vir ‘n groep VF +-studente gewys het. Het hulle haar vir crimen injuria verkla, sou die openbare veroordeling in of meer kontekstuele ewehandig weerspieël het?
Diegene wat sonder ’n wag voor hul mond skryf wat hulle dink, doen vryheid geen guns nie.
Vrye meningsuitdrukking beteken nie alles wat mens hoor sal sag op die oor wees nie. Die soet kom saam met die suur, en eers wanneer ons dit genoegsaam kan hanteer, het ons te make met ‘n volwasse vlak van vryheid van uitdrukking. ‘n Gesofistikeerde eietydse inkwisisie van gedagtes doen dit nie.
Herman Toerien
Foto: Reyer Boxem, HH