Subscribe by Email

Vrouedag:Pretoria, vroue se moord en geweldmisdaad stad.

Aanvalle, geweldsmisdade, moorde, slegs in Pretoria omgewing op vroue vanaf Januarie hierdie jaar, soos berig word deur News24 se webwerf.

’n 7 jarige het R 30.00 aangebied aan ’n aanvaller wat sy ma verkrag en met ’n tuinvurk aangerand het. Die seuntjie het die aanvallers R30 uit sy beursie aangebied toe hulle geld geëis het. Meer as twee weke ná dié aanval in The Orchards, in die noorde van Pretoria, het die polisie nog nie die ma (35) besoek of ’n verklaring by haar afgeneem nie.

Riana Schoeman (35) is Donderdag voor haar twee seuns, Martin (6) en Johan (4), op ’n kleinhoewe in Brandbach, buite Cullinan, doodgeskiet.

Thifhelimbilu Mashau (28) en haar twee dogters, Adivhaho (3) en Avheani (8 maande), is twee weke gelede in hul huis in Theresapark in die noorde van Pretoria vermoor.

Elrene Jones (40) is op 11 Junie tydens ’n rooftog in Willowbray in die ooste van Pretoria twee keer raakgeskiet. Rudolph Terblanche (47), haar lewensmaat, is weens ’n skietwond verlam terwyl  Gerhard van Jaarsveld (48), hul vriend, doodgeskiet is.

Madeleine Kleinhaus (21) is op 9 Junie in die arm en die been geskiet toe haar pa in Centurion stilgehou het by ’n man wat tafels verkoop.

Barbara Eagar (74) en haar man, kol. (afg.) Thys Eagar (78), is aangerand, geskop en met messe gesteek tydens ’n rooftog by hul huis in Wierdapark, Centurion, op 5 Junie.

Suna Steenberg (45) is steeds in ’n koma nadat sy op 16 April in Kameelfontein, noordoos van Pretoria, in die kop geskiet is.

Wilna Prinsloo (71) en haar seun, Ben (45), is op 25 Maart deur aanvallers in hul huis in Boschkop in die ooste van Pretoria aangerand.

Suzie Venter (83) is verwurg en haar man, Theunis, (85) doodgeslaan tydens ’n rooftog by hul huis in Mayville, Pretoria, op 11 Februarie.

Hettie Brittz, vrou van die gospelsanger Louis Brittz, is op 8?Februarie in haar huis in ’n veiligheidskompleks in Centurion verkrag.

Elsa Blignaut (83) is op 25 Januarie dood in haar bed in haar huis in Nieuw-Muckleneuk gevind nadat sy met haar nagklere verwurg is.

Ria van den Bergh (65) is op 13 Januarie in haar huis in Hermanstad in die weste van Pretoria doodgeslaan.