Subscribe by Email

Vrouedag

Verskeie publikasies het juis nou hierdie opskrif gebruik om hul kommentaar oor vrouedag te beskryf.

Die dag, en die woorde van die opskrif, het hul oorsprong in die optog van 20 000 vroue na die Uniegebou in Pretoria op 9 Augustus 1956, om ’n petisie met 100 000 handtekeninge te oorhandig. Hul protes was teen die paswette. Die vroue het ’n lied wat spesiaal vir dié geleentheid gekomponeer is, gesing, Wathint’ Abafazi! Wathint’ ombokodo! (As jy aan ’n vrou raak, slaan jy ’n rots raak.)

Met die kopkrappery oor die land se baie vakansiedae wat verminder word, is vrouedag nié een wat sommer genoem word nie. Politieke partye, kerke en ander instansies span die skoonste taal; die mooiste Afrikaans in om hulde aan vroue te bring, maar ook op die hartseer werklikheid te wys dat vroue nog gans te veel slagoffers is.

‘n Nuuskommentator kan nie self veel byvoeg op dit wat vooraf reeds oor vrouedag geskryf is nie, en hier volg uittreksels van dit wat reeds in Afrikaans beskikbaar was.

Solidariteit wys daarop dat die herkoms van die dag nie ‘n eksklusiwiteit daaraan behoort te verleen nie. Volgens Ilze Nieuwoudt, woordvoerder van die Solidariteit Beweging, moet die nagedagtenis van die Boerevroue en -kinders van die Anglo-Boere-oorlog ook gerespekteer en vereer word. “Vrouedag behoort nie net aan die vroue wat in 1956 protes teen die paswette aangeteken het nie. Die dag moet op ʼn meer inklusiewe manier gevier word. Ons het nie net die reg nie, maar ook die verantwoordelikheid om die dag ter nagedagtenis aan die vroue en kinders van die oorlog op hierdie dag te vier. Hierdie deel van ons geskiedenis mag nie eenvoudig geïgnoreer word nie, want dit maak ’n onlosmaaklike deel van ons land se vorming uit. Die smart en lyding wat hulle deurgemaak het, het byna geen gelyke in die geskiedenis van moderne oorlogvoering nie. Dié vroue het as’t ware vasberade en vol hoop saam geveg vir vryheid in dié bittere oorlog. Hulle was ware heldinne en bly steeds ʼn voorbeeld vir hedendaagse vroue.”

Die Christen-Demokratiese Party wys op die hedendaagse lot en rol van vroue: “Vrouedag sal in Suid-Afrika eerder as aanklag teen die gewete as vieringsgeleentheid geld so lank die land as verkragtinghoofsetel van die wêreld bekend staan,” aldus die woordvoerder van die Christen-Demokratiese Party (CDP), Linda Pretorius.

“Selfs al word volgens sommige bronne net een uit sowat 60 verkragtings in Suid-Afrika by die polisie aangemeld, is die amptelike syfer van meer as 132 per 100 000 van die bevolking vir seksuele oortredings heeltemal onaanvaarbaar. In 2010 is berig dat minder as een persent van die verkragtingsake in Suid-Afrika op ‘n suksesvolle skuldigbevinding uitloop.

“Onder die slagoffers tel kinders – elke drie minute word na berig word ‘n kind in dié land verkrag – selfs babas, bejaardes en gestremdes.

“Terselfdertyd is vroue in verskeie gemeenskappe die broodwinners en die kultuurdraers wat onder meer sorg dat hul kinders morele waardes aanleer.

“Vroue verdien veel beter as om mishandel te word, misken te word soos beoogde wetgewing oor tradisionele howe. Landelike vroue kan van die mees basiese regte gestroop word en is soms die slagoffers van poligame huwelike.”

Die e-Hervormer van die Hervormde kerk laat hom in sy redaksionele kommentaar soos volg uit: “Vroue is in alle opsigte mans se gelykes, baie keer ons meerderes! Vir elke Mohandas Ghandi is daar ’n Moeder Teresa; vir elke Louis Pasteur ’n Marie Curie; vir elke John F Kennedy ’n Margaret Thatcher. Deur die eeue beklee vroue ’n prominente plek in die geskiedenis, van die vroegste tye af. Dis nie blote toeval dat die blyste van alle boodskappe, dat ons Verlosser die dood oorwin het, heel eerste aan vroue bekendgemaak is nie!… Kom ons gebruik môre om erkenning te gee aan die ware rotse van ons gesinne – ons vroue en moeders! Dis soms baie voordelig en erg lekker om ’n man te kan wees – kom ons bederf die vroue in ons lewens wat dit meestal moontlik maak. Sonder hulle is die lewe ’n baie saai en oninteressante plek.” Dié stuk is geskryf deur ds. Etienne Fourie, wat soos volg afsluit: “Ek weet. En ek is bitter spyt dat ek my vrou nie meer bederf en waardeer het toe ek dit nog kon doen nie…”

Die Kerkbode-aanlyn van die NG Kerk skryf soos volg: “In baie se denke lê dié dag ongeveer op dieselfde vlak as iets soos Moedersdag. Daarom is daar dalk ’n ekstra drukkie vir vroulief of mamma, dalk kom daar selfs ’n geskenkie of blomme of iets spesiaal vir ete. Maar dié predikers, soos die vroue wat op spesiale dae ’n bietjie bederf word, weet dit is ’n ydele verwagting. Goed bedoel. Mooiklinkend en gesellig. Maar gemeenplasig. Leë woorde, dus. Is vanjaar nie dalk die kans om sulke woorde vlees te laat word nie? Bied Vrouedag nie die ideale geleentheid om te begin om ánders te praat nie? Oor vroue, ja, áltyd. Maar ook mét vroue. In die openbaar, waar dit kan aandag trek en ’n voorbeeld stel.”

Vandag sal nog baie instansies verklarings uitreik – ook in mooiklinkende Afrikaans. Maar as dit net by woorde bly, beteken dit niks.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien