Subscribe by Email

Vrede in die Ogaden?

Die hoop het opgevlam dat daar uiteindelik vrede in die Ogaden sal kom, ‘n woestynagtige deel van Ethiopië wat hoofsaaklik deur Somali’s bewoon word.

Die regering van Kenia het onlangs vredesamesprekings gefasiliteer tussen ‘n Ethiopiese regeringsafvaardiging onder die leiding minister van Verdediging, Siraj Fegessa, en ‘n span van die Ogaden Nasionale Bevrydingsfront (ONLF) onder leiding van sy sekretaris van buitelandse sake, Abdirahman Mahdi.

Hierdie samesprekings word as die eerste klein treetjies na ‘n oplossing beskou.

Hoewel Ethiopië se huidige, federale grondwet vir selfregering en selfs sesessie voorsiening maak, het Ethiopië ‘n lang geskiedenis uit die 19de eeu van sentralisering. Die Tigre, maar veral die Ahmaras, regeer in wese soos kolonialiste oor ander groepe, wat in ‘n stadium tot sewe burgeroorloë gelyktydig teen verskillende etniese meerderhede gelei het. Die Ogaden-oorlog het oorspronklik juis uitgebreek toe die destydse Somaliese president irredentistiese gevoelens onder die Somaliese inwoners van die Ogaden benut het om die gebied te annekseer. Die Ethiopiese magte van die diktator Mengistu Mirriam het met Kubaanse hulp die Somaliese magte verdryf.

Na Mengistu se bewind omver gewerp is, het Somalië ‘n federale regeringsvorm gekry, kulturele minderhede het groter streekoutonomie gekry, en Eritrea het afgestig.

Veral die Omoro en die inwoners van die Ogaden meen egter hul outonomie word te veel aan bande gelê. Boonop is hul politieke bewegings wat die sterkste vorme van outonomie voorstaan verbied, en die ONLF is tot terroriste-organisasie verklaar.

Die Ethiopiese regering word dikwels daarvan beskuldig dat dit steeds, soos veral Mengistu, hongersnood as wapen teen minderhede se aspirasies inspan. Die verspreiding van internasionale hulp aan sekere gebiede word dan glo deur die regering aan bande gelê. Seismiese toetse vir die aanwesigheid van olie het tot dusver belowende resultate in die Ogedan opgelewer, terwyl slegs dele aanliggend tot Suid-Soedan tot dusver ook belowend lyk.

Die volledige artikel kan hier gelees word.

 

 

Herman Toerien