Subscribe by Email

Vrede en die les van bloed en yster

Otto von Bismarck

Otto von Bismarck

Die eertydse Pruisiese en Duitse staatsman, Otto von Bismarck het as briljante strateeg en met die militêre oorwinnings wat hy behaal het die bynaam gekry as die man van bloed en yster.
Historici gebruik hom egter ook dikwels as die persoon wat daarin kon slaag om sy militêre oorwinnings op so ‘n manier in vrede te omskep dat dit ‘n langdurige of selfs permanente uitwerking sou hê. Sy geheim was doodeenvoudig om die verslane vyand so te behandel dat hy nie verneder word nie – dat die vyand ook met selfrespek van die onderhandelingstafel kon vertrek.
Tot dusver was die retoriek uit ANC geledere oor ‘n oorwinning wat oor apartheid behaal sou gewees het gewoonlik bloot populistiese praatjies. Die ANC het immers hoegenaamd nie daarin geslaan om die pre-1994-staat op sy knieë te dwing nie. Buitelandse sanksies en disinverstering en die vooruitsigte van toekomstige isolasie het veel meer gedoen.
Pres. Jacob Zuma se opmerking tydens sy Vryheidsdag-toespraak dat “ons” apartheid en kolonialisme verslaan het, het egter in ‘n besliste konteks gestaan daarvan dat die ANC ‘n oorwinning opeis wat hy nie behaal het nie. Dit staan in die konteks van Zuma se reaksie op ‘n ope brief van die Afrikanerbond aan die president en die ANC waarin kommer uitgespreek word oor groeiende polarisasie, tot dié mate dat nie almal ewe gemaklik voel oor die vryheid wat met Vryheidsdag herdenk word nie.
Net so min as wat die Afrikanerbond alle Afrikaners verteenwoordig, was die ANC ook nie alleen in sy stryd teen apartheid nie. Tog het beide instansies statuur gebore uit persepsies wat genoegsame gevaarligte laat flits dat die ANC nog ‘n sterk sein stuur dat hy die Kemtonparkse ooreenkoms as gekanselleer beskou. Dit volg kort na sy vorige sein – sy steun aan Julius Malema en die organisasie se sterk aandrang op die reg om ‘n lied te sing wat die ander as bedreigend en minstens minagtend ervaar. Dié sein druis regstreeks in teen elemente die Kemptonparkse akkoord wat in die grondwet neerslag gevind het.
Aan die vooraand van ‘n verkiesing waar sake objektief gesproke nie goed vir die ANC lyk nie, en dit nou te laat is om brouwerk met veral munisipale dienslewering nog reg te ruk om kiesers anders te oortuig, blyk polarisasie – en raspolarisasie om spesifiek te wees – die wondergom te wees wat weer tradisionele ANC-steun om hom kan inbind.
Toevallig is dit wat die AB nou voorgestel het die mins ingrypende kontemporêre voorstel oor die aanspreek van die vredesakkoord. Ander instansies vra ‘n voortsettingsakkoord om minderheidsregte beter te ondervang, terwyl nog ander ‘n hele nuwe skikking wil heronderhandel juis om die los drade wat nou uit opmerkings soos dié van die president blyk, aan te spreek.
Iemand sal miskien meedoen aan feesvierings as hy hard genoeg geslaan word om deel te neem en selfs om bly te lyk. Dit beteken egter nie hy is met hart en siel daarin nie.
Bismarck het sy verslane vyande meer respek betoon as wat diegene betoon word wie se leiers nomineel as gelyke vredesvennote van die onderhandelingstafel weggestap het.
Dié realiteit bring die land by die posisie waar dit nie nou saak maak of die vredesonderhandelings geslaag was of nie, en of dit ‘n goeie of slegte skikking opgelewer het nie. Diegene wat dit omarm het moet ongelukkig nou toegee dat die gees daarvan vernietig is. Dis rede tot groot kommer.
Die AB se oproep tot dialoog durf daarom nie deur die ANC as ‘n daad van dislojaliteit afgemaak word nie. Dit is nie ‘n luukse nie, maar ‘n noodsaaklikheid – ook vir hulle wat die proses verder wil voer na die punt waar minderheidsregte beter geartukuleer word soos die Internasionale Reg bepaal, en soos dit in die grondwette van baie lande soos Indië, Nieu-Seeland, Spanje en vele meer neerslag gevind het. – Herman Toerien