Subscribe by Email

Voyager se 35ste jaar in ruimte herdenk

Voyager se 35ste jaar in ruimte herdenk

Gister, 35 jaar gelede is Voyager 2 gelanseer om, soos Voyager 1 wat 16 dae later gelanseer is, uiteindelik ons sonnestelsel te verlaat.

Nasa het pas in ‘n verslag besonderhede verskaf oor hoe dit met die tweelingtuie se onderskeie reise gaan.

Voyager 1 snel in ‘n “noordelike” rigting weg van die son en is nou sowat 18 miljard kilometer van die son weg. Voyager 2, wat eerste gelanseer is maar deur sy tweeling verbygesteek is, snel in ‘n “suidelike” rigting en is nou sowat 15 miljard kilometer van die son af.  Om ‘n idee te vorm – Pluto se afstand van die son af is gemiddeld 6 miljard kilometer. Dit is omtrent 39 keer so ver soos die aarde van die son af is.

Nasa verwag dat daar nie meer lank gewag sal hoef te word voor die twee tuie die werklike interstellêre ruimte bereik nie. Die tuie beweeg nou al vyf jaar lank deur die son se heliosfeer, ‘n reuse “borrel” van gelaaide partikels wat deur die son uitgeblaas word. ‘n Paar lesings van Voyager 1 het onlangs aangedui dat sy omgewing aan die verander is, maar die data word nou ontleed om ander veranderlikes te verreken.  

Terwyl die wetenskaplikes angstig wag dat die tuie “na die ander kant” deurbreek, het hulle reeds die mens se kennis van die sonnestelsel en veral Uranus en Neptunus en die buiteplanete se mane aansienlik verbreed.

Nasa het van die slingevel-metode gebruik gemaak om die tuie se spoed te vermeerder. Dit behels dat die tuie van die een planeet na die volgende “geslinger” word en elke keer bietjie van die planete se rotasie-energie “steel.” Omdat die tuie onbeduidend teen die planete is, “voel” die planete dit nie, maar die tuie se spoed is geweldig vermeerder.

Die twee tuie se kragbronne word so spaarsamig as moontlik gebruik, maar behoort tot 2020, en dalk selfs 2025 te hou. Beide tuie se toestande word as “puik” beskryf.

 

 

Herman Toerien