Subscribe by Email

Volgende vulkaniese uitbarsting dalk Mount Cleveland

Dit wil voorkom of die volgende vulkaniese uitbarsting dié van Mount Cleveland sal wees. Dié aktiewe vulkaan is op Chuginidakeiland wat deel van die Aleuette-eilande suid van Alaska uitmaak. In die jongste verslag berig die Alaska-vulkaanwaarnemingstasie dat die lawakoepel in die krater toeneem, wat op die moontlikheid van ‘n “ontploffende” uitbarsting dui – wat dalk ook nie sal plaasvind nie. Die moontlikheid is dat die aswolke van so ‘n ontploffing tot 7 000 meter hoog kan strek.
Indien die lawa aanhou styg, mag die krater oorloop en lawastrome kan vorm. Dit kan selfs die kraterwand erodeer.
Mount Cleveland se krater het minstens 21 keer die afgelope 230 jaar uitgebars. Dit het drie keer in 2009 uitgebars,twee keer in 2010 en reeds een keer vanjaar.
Weens die afgeleënheid van die vulkaan is dit baie moeilik om te bestudeer, die waarnemingstasie maak hoofsaaklik van satellietbeelde gebruik om dit te monitor. Dit hou gevaar vir vlugroetes oor die noordelike Stille Oseaan in.
Mount Cleveland is een van 75 vulkane wat in ‘n lang ry voorkom waar die Stille Oseaanplaat onder die Noord-Amerikaanse plaat inbeweeg. Die gebied word dus gereeld deur aardskuddings geteister, waarvan die episentrum dikwels dieper as ‘n 100 kilometer is, hoewel van die kragtiger aardbewings sowat die helfte nader aan die oppervlak ontstaan. Op 24 Junie vanjaar was daar byvoorbeeld ‘n aardbewing van M 7.2 op by die Fox-eilande wat ook deel van die Aleuette-groep uitmaak. Op 2 September was daar weer ‘n grote van M 6.8. Op die kaart hieronder kan gesien word hoe die aardbewings die afgelope week in die omgewing van die vulkaan behoorlik skrum om ‘n plek op die kaart te kry.
Hierdie verlenging van die Alaska-skiereiland vorm deel van die sogenaamde Ring van Vuur al om die Stille Oseaan.
Herman Toerien