Subscribe by Email

Voertuigverkope styg in September

voertuig verkope

MOTOR NUUS – Goeie nuus vir die motorbedryf is dat voertuigverkope in September vanjaar met 11,5% gestyg het gemeet teenoor September 2013. Die totaal van 60 854 eenhede is dus 6 283 eenhede beter as ‘n jaar gelede.

Nog goeie nuus is dat verlede maand se uitvoere met ‘n verstommende 256% toegeneem het tot 30 778 eenhede uitgevoer teenoor 2013 se beskeie 8 598.

In die gebruiklike toptien-kategorie was Toyota weer baas met totale verkope van 12 363 een-hede. Hierdie skittersyfers is behaal danksy goeie vertonings deur Hilux (3 907), Corolla/Auris/Quest (2 320) en Fortuner (1 234). Die intreevlak Etios het ook mooi presteer met 1 705 verkope, terwyl RAV (486) gemaklik afgereken het met sy vernaamste teenstander – Ford se Kuga (312).

Steeds in die tweede plek met ‘n totaal van 9 967 eenhede verkoop en net ‘n kortkop agter Toyota, was Volkswagen eweneens ook in die gelukkige posisie om September se topverkoper op te lewer toe sy Polo Vivo alle rekords geslaan het met 4 263 verkope. Dit is goed bygestaan deur Polo (2 152), Golf 7 (529) en Audi A3 (542). Ander presteerders in die VW-stal was Audi A4 (450) en Tiguan (341).

In die derde plek met 7 649 eenhede verkoop, het Ford hoofsaaklik staatgemaak op sy uitnemende Ranger-bakkies (2 629), goed ondersteun aan die passasiersvoertuigkant deur Fiesta (1 238), Figo (1 511) en EcoSport (788). Dit sal egter die laaste keer wees dat Mazda (471 eenhede) se syfers by dié van Ford gevoeg sal word aangesien hierdie Japanse vervaardiger voortaan onafhanklik sal optree.

Soos die vorige maand, was Associated Motor Holdings (Hyundai, Kia) weer in die vierde plek met ‘n totaal van 6 524 verkope – sonder om individuele modelle se verkope aan te dui.

General Motors (GM) staan ook redelik sterk met 5 513 verkope vir ‘n vyfde plek onder die toptien.

Hier was dit veral Aveo (557), Spark (848) en Opel wat ‘n welkome terugkeer na Suid-Afrika maak met ‘n indrukwekkende 500 eenhede verkoop.

Die ligte handelsvoertuigafdeling het ook goeie waarde toegevoeg danksy Isuzu KB (1 221) en Chev Utility (1 334). Laasgenoemde moes egter tweede viool speel vir Nissan se NP200 wat 1 595 verkope aangemeld het.

Dit blyk dat Nissan die sesde plek op die ranglys sal bly beklee met deurgaans goeie verkope.

Verlede maand se 4 155 verkope was dan ook in die orde van 13 eenhede beter as in Augustus. Vir Nissan was sy gebruiklike uitblinkers Qashqai (350), Almera (217), Micra (256), en X-Trail (350). Nissan se staatma-kers bly egter steeds sy NP300 bakkie (504), NP200 (1 595) en Navara (109).

Die sewende plek behoort oudergewoonte aan Mercedes-Benz wat in September vanjaar 3 874 nuwe voertuie verkoop het. Dit sluit passasiersmotors, ligte handelsvoertuie, asook medium- en swaar handelsvoertuie in. Vir Mercedes het die C-klas (1 535) mooi presteer, terwyl die M-Klas (182) en die A-Klas (436) beïndruk het.

BMW, daarenteen, is in die 8ste plek, maar vervaardig en verkoop net passasiersmotors. BMW se totaal van 2 487 eenhede is weliswaar 43 eenhede beter as die Augustus-verkope, maar sy 3-reeks (1 066) moes die aftog blaas teen Mercedes-Benz se 3-Reeks.

Die enigste Franse vervaardiger, Renault, is weer in die negende plek met 1 627 verkope – ietwat beter as sy Augustus-syfers. Hier is dit veral Clio IV (489), Duster (267) en Sandero II (629) wat die oog gevang het.

Na ‘n wankelrige begin in 2014, het Honda dramaties herstel wat sy verkope betref en is sy verkoopsyfers van 1 216 nagenoeg 200 eenhede beter as Augustus se verkoopsyfers.

Onder die kleiner en nismark-invoerders het veral Suzuki die oog gevang met verkoopsyfers van 676, Porsche se 90 eenhede en Jaguar/Land Rover se 545. Chrysler SA (720) is altyd bestendig, terwyl Subaru (137) ook redelik gevaar het.
Ten slotte verwag ekonome dat die afplatting in ekonomiese groei, die moontlikheid van nog ‘n rentekoersverhoging en duurder voertuie vanweë die rand se verswakking, waarskynlik sal meebring dat finale syfers aan die einde van hierdie jaar tussen 4% en 5% laer gaan wees as die 2013-syfers.

Artikel deur Bernard K Hellberg