Subscribe by Email

Voedselkrisis of nie?

Kenners verskil of die ergste droogte in groot dele van die VSA sedert 1956 tot ‘n nuwe wêreldvoedselkrisis sal lei of nie.

Die Amerikaanse minister van landbou, Tom Vilsack, sê hy het spesiaal gebid vir reën, en dit lyk of sy gebed binnekort verhoor gaan word.

Maar volgens sommige kenners is dit te laat en gaan die reën nie veel doen om oeste te red nie. Aan die begin van die seisoen is die VSA se mielie-oes nog op 370 miljoen ton geraam, maar dis nou sowat 30 persent laer.

Die reënvooruitsigte het wel die graanpryse wat in afwagting van ‘n voedselkrisis skerp gestyg het, weer effens laat terugsak. Voor die beter vooruitsigte het graanpryse op die wêreldmarkte met sowat 55 persent gestyg.

Die VN se Landbou en Voedselorganisasie, FAO, gebruik self nog nie die term “voedselkrisis” nie, maar beskryf dit as ‘n ernstige situasie wat noulettend dopgehou moet word.

Ook in Rusland, Kazakstan en die Balkanlande is oeste onder druk weens droogte of oorstromings. Dit het ‘n kettingreaksie omdat veeboere ook nou tussen 40 en 50 persent meer vir hul veevoer moet betaal. Dit neem 3 kg graan om een kg hoendervleis te lewer, en een kg bief verg 5 kg graan.

Kenners wys daarop dat verskeie regerings tydens die groot kosprysstygings van 2008 en 2010 onder druk gekom en selfs geval het, soos dié in Haïti, Kameroen en Egipte.

Anders as in 2008 is daar nou geen sprake van rystekorte in die Ooste nie.

Die aarde gaan teen 2050 ‘n beraamde nege miljard bewoners hê, wat beteken dat daar elke jaar rekordoeste moet wees om die bykomende 40 miljoen graan te kan oes.

Sowat 140 miljoen mense gaan elke aand met ‘n leë maag slaap.

Hoofbron:  http://www.trouw.nl/tr/nl/4516/Gezondheid/article/detail/3291523/2012/07/25/Nieuwe-voedselcrisis-op-komst.dhtml