Subscribe by Email

VF+ sê gevaarlike wapenskonsepwet ongrondwetlik

Die konsepwet op Gevaarlike Wapens is in die Staatskoerant gepubliseer en belanghebbendes kan kommentaar daarop lewer tot 2 Oktober 2011. Dit definieer ‘n gevaarlike wapen, handel met speelgoedgewere, windbukse, “BB”-gewere en verfbal- (paintball) gewere. Die konsepwet bepaal dat iemand in besit van hierdie gewere en ‘n gevaarlike wapen in sekere omstandighede wat agterdog wek, gearresteer kan word en tronkstraf van tot drie jaar opgelê kan word.

“Hierdie konsepwet het verrykende implikasies en feitlik enige objek, van ‘n knipmes tot ‘n klip word beskou as ‘n gevaarlike wapen. Dit gee magte aan die Polisie om links en regs mense te arresteer. Verder sal dit die verfbalbedryf en die verskillende Oosterse gevegskunste ernstig knou. Die feit dat jy nie selfverdediging as ‘n verweer sal kan gebruik nie, maak die konsepwet ongrondwetlik,” sê mnr. Pieter Groenewald (LP), hoofwoordvoerder van Polisie vir die Vryheidsfront Plus.

“Die Vuurwapenwet laat toe dat jy jou vuurwapen aan jou mag dra, dit moet net bedek wees, maar klousule 2(3) van hierdie konsepwet bepaal ek kan nie ‘n mes in ‘n skede aan my dra en sê dit is vir selfverdediging nie. Daar is ongeveer 400-500 duisend mense in die verfbalbedryf en meer as ‘n miljoen in die Oosterse gevegskunste. Verskeie selfverdedigings-apparate word gebruik in die gevegskunste. Kieries, knuppels, pepersproei, enige iets wat gebruik kan word om iemand te beseer word gedefinieer as ‘n gevaarlike wapen. Sou ‘n vrou laat in die aand met pepersproei in haar handsak loop en die Polisie keer haar voor, kan sy nie sê dit is vir selfverdediging nie en kan sy gearresteer word. Die konsepwet is om die minste te sê absurd en belangegroepe moet dringend skriftelik hulle besware indien,” het Groenewald gesê.