Subscribe by Email

VF+ maan oor arbeidswetgewing

Die Vryheidsfront Plus het na aanleiding van die minister van arbeid, Mildred Oliphant, se aanmaning dat NEDLAC nou die arbeidswysigingswette moet finaliseer, haar gemaan om nie soos haar voorganger die wette in Desember te publiseer terwyl die Parlement in reses is nie. “Dit blyk die huidige arbeidswysigingswette is deur die vorige minister van arbeid gedurende Desember gepubliseer sodat die parlementslede en die publiek nie daarvan bewus sou wees nie en die tyd vir kommentaar derhalwe vinniger sou verstryk. Ons wil daarom ‘n beroep op die minister doen om die wette eerder te publiseer wanneer almal van hul vakansies teruggekeer het en behoorlik kan aandag gee aan die voorgenome wysigings,” het adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementêre woordvoerder oor arbeid, gesê.

“Ons ervaring tot dusvêr is dat minister Oliphant ‘n deursigtige en mens-georiënteerde leier is en daarom hoop ons sy sal nie die foute van haar voorganger herhaal nie,” het Alberts bygevoeg.

Die VF Plus sien daarna uit om die aangepaste wette volgende jaar onder oë te kry met die verwagting dat baie van die probleme wat daarin voorgekom het, met spesifieke verwysing na die gebruik van die nasionale demografie vir kwotas en die funksionering van arbeidsmakelaars, uit die weg geruim is.

Die VF Plus is van voorneme om gedurende hierdie proses met die minister in gesprek te tree oor die verslapping van die arbeidsmark, veral ten aansien van regstellende aksie.