Subscribe by Email

VF+ looi DA oor Midvaal-misleiding

“Die feit dat mnr. James Selfe, DA-LP en Timothy Nast, uitvoerende burgemeester van Midvaal, in hul reaksie op die bevinding van die Openbare Beskermer oor wanadministrasie, wangedrag en onreëlmatighede in die DA-beheerde Midvaal-munisipaliteit in Gauteng, sê dat die Openbare Beskermer geen korrupsie of bedrog kon vind nie, is misleidend,” het mnr. Jaco Mulder, VF Plus-LPW en provinsiale leier vir Gauteng, gesê.

Die Openbare Beskermer, adv. Madonsela, het telkens in haar bevinding verwys na die Spesiale Ondersoekeenheid van die polisie se rol in die hele ondersoek. Die verslag van die SOE wat reeds aan die media beskikbaar gestel is, bewys reeds dat verskeie kriminele sake aanhangig gemaak is en dat van die verdagtes waarskynlik aangekla en selfs gearresteer sal word om in ‘n geregshof te verskyn.

Die mandaat van die Openbare Beskermer handel nie daarmee nie, maar die Spesiale Ondersoekeenheid van die polisie wel. ‘n Landdros of regter van ‘n geregshof kan wel so bevinding maak wat sou voortspruit uit die ondersoek van die polisie. Daarom mislei die DA die publiek met sy ongeërgde reaksie op die verslag,“ het Mulder bygevoeg.

Volgens mnr. Corrie Pypers, VF Plus-raadslid in Midvaal en klaer by die Openbare Beskermer, mislei Nast die publiek verder deur te verwys na die ongekwalifiseerde Midvaal-ouditverslae van die afgelope agt jaar. Hy verswyg die feit dat daar onder meer geen inligting aan die Ouditeur-generaal verskaf is aangaande 99 werknemers van Midvaal wat direkteure is van ondernemings en dat 93 munisipale amptenare die raad ongeveer R400 000 aan dienstegeld en belasting verskuldig is. Slegs R37 000 hiervan is tot dusver gevorder deur die SOE.

Na die ingryping van die SOE is ongeveer R29 miljoen se agterstallige water- en elektrisiteitskuld reeds ingevorder tot voordeel van die belastingbetalers van Midvaal. Die verslag van die Openbare Beskermer het reeds bevind dat die aanstelling van die toe Midvaal-leier van die DA as prokureur, skuld invorderaar en afslaer van die raad onbehoorlik was en dat talle ongerymdhede daaruit voortgespruit het.

Die leiers van die DA is ‘n beter verduideliking aan die kieserspubliek van Midvaal en Suid-Afrika verskuldig omdat Midvaal telkens deur die DA voorgehou word as voorbeeld van ‘n skoon administrasie.

2 Responses to VF+ looi DA oor Midvaal-misleiding

  1. Herman

    November 16, 2011 at 3:59 am

    In alle billikheid – die VF+ staan nie in isolasie nie, en daarom ook nie koerant.co.za nie. Lees bv Volksblad se hoofartikel, Blinde sambok, by http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/2011/11/12/VB/8/arteen11nov.html
    oor dié aabgeleentheid.
    Met die vorige Midvaal-artikel hier het die VF + reeds op die kwessie geantwoord, by monde van mnr. Jaco Mulder. Ek self het daarop gewys dat die feit dat die DA sy nasionale mediaverklarings slegs in Engels doen ‘n probleem vir die gemeenskapsmedia oor ‘n wye front skep omdat die nodige tyd vir vertaalgeriewe nie altyd beskikbaar is nie. Partye wat hul mediaverklarings (ook) in Afrikaans uitreik, soos die VF+ en die CDP, reik te veel uit om op ‘n werklik verteenwoordigende basis hier te gebruik juis op die gevaar af dat dit na ‘n politieke voortrekkery kan lyk. Kortom, hulle word reeds wat bruikbare en nuuswaardige verklarings betref benadeel omdat die DA en ander partye slegs Engels gebruik. Selfs ander instansies wat baie uitreik, soos Afriforum word in die proses benadeel omdat gestreef word na ‘n beter balans tussen partye wat die nuus haal. Herman

  2. Ignes Fatui

    November 15, 2011 at 4:41 pm

    Nog nooit was die VF+ die klits so kwyt soos met hulle bombardement op die DA en Midvaal. Waarom nie die energie, moeite, opoffering en aanvalle konsentereer op die letterlik honderde anc korrupte munisipaliteite nie. Is daar suurdruiwe van VF+ lede om persoonlike “scores te settle”.

    Lees maar self die feite rondom die aangeleentheid.

    Beskuldiging vanuit die VF+ geledere:

    http://www.dievoorblad.co.za/index.php/afr/joomla-pages-iii/category-list/35-provinsiale-nuus-gauteng/104-vf-plus-verwelkom-verslag-oor-da-wanbestuur-in-midvaal

    DA drukstuk waarin die bewerings in perspektief gestel word:

    http://www.da.org.za/newsroom.htm?action=view-news-item&id=1000

    Hierdie VF+/DA geveg herrinner sterk aan: Twee honde baklei oor ‘n been en die anc gaan daarmee heen. Die VF+ het na ‘n vlak gedaal wat aan skandaligheid grens.

    Ek het al my sentimentele en stilswye ondersteuning van die VF+ verloor. [stem nie vir hulle] Ek betreur hierdie dag.