Subscribe by Email

VF+ druip regering

Die VF Plus het sy jaarlikse einde van die jaar evaluering (rapport) van die ANC se prestasies en mislukkings in 2011 vandag bekend gestel.

Lede van die VF Plus regoor die land is gevra om die sake wat vir hulle hierdie jaar belangrik was, aan te dui. Daarna het hulle ’n mening en ’n punt daaroor gee.

Dit blyk uit hulle evaluasie dat die ANC vanuit die oogpunt van die deursnee VF Plus-kieser vanjaar ’n gemiddelde punt van 42% behaal het.

Van die sake wat so uitgesonder was, is misdaad, korrupsie, minister Manuel se beplanningskommissie, regspleging, ekonomiese sake, taal- en kultuurregte.

Waar minister Manuel se beplanningskommissie as baie positief beoordeel is, is die twee polisiekommissarisse Selebi en Cele, as baie negatief beoordeel.

Die korrupsie ondersoeke van die Openbare Beskermer, adv. Thuli Madonsela, is as baie positief gesien maar die feit dat Suid-Afrikaanse plaaslike rade R74 miljoen per dag, of R27 miljard per jaar mors, is ernstig veroordeel.

Die aanslag op die grondwethof asook die voorgestelde Inligtingswet het rooi ligte laat afgaan, asook die belastinglas wat deur tolhekke stil-stil meer word.

Vir die volledige beoordeling en punte sien die verslag onder aan verklaring.

DR. PIETER MULDER

Kontaknommers: 082 674 6670 / 082 777 0202

VF Plus se jaarlikse evaluering van ANC-prestasies/mislukkings

Inhoudsopgawe

1. Inleiding

2. Misdaad

3. Algemene Korrupsie

4. Beplanningskommissie

5. Regspleging

6. Ekonomiese groei en werkskepping
7. Taal- en kultuurregte

8. Slotsom

1. Inleiding

Hiermee die VF Plus se jaarlikse einde van die jaar evaluering (rapport) van die ANC se prestasies en mislukkings in 2011.

1.1 Werkswyse.

As werkswyse word lede van die VF Plus regoor die land gevra om die sake wat vir hulle hierdie jaar belangrik was, aan te dui. Daarna moet hulle ’n mening en ’n punt daaroor gee

In hierdie tydperk, Des 2010-Des 2011, het ministers van portefeuljes verander en is ander afgedank. Dit bemoeilik evaluering. Daarom is eerder die belewing van regeringsbeleid as geheel geëvalueer en nie persone nie.

1.2 Voordele

Die voordele van so ’n opname is dat dit aandui watter politieke sake vir VF lede tans baie belangrik is en hoe hulle daaroor voel. Die verslag wil nie voorgee om objektief te wees nie, maar dit is wel ’n akkurate opsomming van die deursnee VF Plus-kieser se belewenis van regeringsbeleid. Waar die opname aan die einde van die jaar gedoen word, het ervaring gewys dat onmiddellike nuusgebeure, soos byvoorbeeld die bekendstelling van minister Manuel se beplanningskommissie verslag, die Cele- en Selebi gevalle, ens. meer prominent mag wees as gebeure in die begin van die jaar. Uit die aard van die saak word baie sake genoem waarvan slegs die wat die meeste reaksie uitgelok het, in volgorde hier aangebied word.

Die sake wat so geëvalueer is en wat vir VF Plus lede van belang was, is die volgende:

· Misdaad;

· algemene korrupsie;

· beplanningskommissie;

· regspleging;

· ekonomiese groei en werkskepping en

· taal- en kultuurregte.

Die regering se “eksamenuitslag” vir 2011 word hieronder verder uiteengesit.

2. Misdaad

Misdaadbekamping is ’n grondwetlike plig waarvan die politieke verantwoordelikheid die van die minister en regering is (art 205(3) & 206). As ’n regering in die opsig faal, misluk die staat want dan word die staat ’n misdadige land.

Positiewe

2.1 Moord: Die enigste positiewe aspek was die algemene daling in meeste geweldsmisdade volgens die statistiek van die Polisie. Die nuutste misdaadstatistiek toon dat moord met 6,5% afgeneem het. Suid-Afrika se moordsyfer is nou 31,9 per 100 000. Dit is steeds amper vyf keer meer as die wêreldgemiddeld.

2.1 Roof: Rooftogte by woonhuise het afgeneem met 10,1% (16 889). As die afgelope vyf jaar as tydperk geneem word, het dit steeds met 60,6% gestyg en met 16,6 % die afgelope drie jaar gestyg.

Negatiewe

2.3 Polisie Kommissarisse: Die skorsing van Bheki Cele as kommissaris en die finale tronk toe stuur van die vorige kommissaris Jackie Selebi het die vertroue van die publiek teenoor die Polisie aangetas. Daar kan nie van die publiek verwag word om vertroue in die Polisie te hê met twee sulke nasionale kommissarisse nie.

2.4 Skietlustigheid: Verlede jaar is kommer uitgespreek oor die skietlustigheid van die Polisie. Hierdie jaar is die kommer bevestig. Mnr. Tatani se skietdood tydens ’n optog in Ficksburg bewys dat die Polisie nie skroom om onskuldige burgerlikes in protesoptogte dood te skiet nie.

2.5 Polisiekorrupsie: Die verdere ontbloting van korrupsie in die Polisie met geboue en die bou van Polisiestasies in KZN en Mpumalanga is kommerwekkend. Hierdie jaar het dit ook bekend geword dat die Polisie die afgelope sewe jaar 20 429 (vanaf 2004) vuurwapens as verlore aangeteken het en slegs 4 810 kon terugvind.

2.6 Vuurwapenlisensies: Die Polisie se hantering en kontrolering van vuurwapens van die publiek is uiters swak. Die minister se aankondiging dat die agterstand in die aansoeke van herlisensiëring van vuurwapens ingevolge die nuwe Vuurwapenwet (Wet 60 van 2000), binne nege maande verwerk sal word, het soos die VF Plus voorspel, nie gerealiseer nie en was dit leë beloftes van die minister.

2.7 Rassisme: Toenemende rassisme teen wit en bruin lede in die SAPD veroorsaak steeds dat hulle nie behoorlik kan funksioneer nie en oorlaai word met werk van ander kollegas wat onbevoeg is. Bevorderings moontlikhede vir veral wit SAPD-lede is steeds skraal en diskriminerend.

2.8 Plaasmoorde: Dit duur voort en die minister se weiering om syfers oor plaasmoorde bekend te maak skep agterdog en is steeds onaanvaarbaar, aangesien die VF Plus dit beskou as ’n prioriteitsmisdaad wat voedselsekerheid in SA bedreig.

Uit bogenoemde is dit duidelik dat die negatiewe aspekte steeds hierdie jaar oorheers.

Die VF Plus se puntetoekenning aan die ANC vir misdaadbekamping is verlaag van 5/10 vir 2010 na 3/10.

3. Algemene Korrupsie

Korrupsie is deurlopend as ’n ernstige probleme geïdentifiseer.

Positiewe.

Die onbevreesde uitlatings teen korrupsie en die objektiewe ondersoeke van adv. Thuli Madonsela as openbare beskermer, is positief ervaar en word sterk ondersteun. Met dieselfde ywer waarmee sy ANC stadsrade ondersoek, ondersoek sy byvoorbeeld ook die korrupsie en wanbestuur van die DA raad in die Midvaal-munisipaliteit.

Negatiewe.

Minister Pravin Gordhan het in September 2011 aangekondig dat die vermorsing by munisipaliteite in SA R74 miljoen per dag beloop. Dit beloop R27 miljard per jaar. Geen tenders, kwotasies en kontrakte in die openbare sektor is meer bo verdenking nie. In die Vrystaat byvoorbeeld moet vrouens wat aansoek doen vir behuising en nie omkoopgeld kan betaal nie, met seksuele gunste betaal. Die kultuur van korrupsie in die openbare sektor verdiep by die dag. Dat beweer word dat omkopery en bedrog in die departement van Polisie die hoogste van alle departemente is, dien as bewys waar SA tans trek.

Die Spesiale Ondersoek Eenheid ondersoek tans meer as 1000 sake van bedrog en korrupsie in die openbare sektor. Hulle kan geen ondersoek doen wat die President nie met ’n proklamasie gemagtig het nie. Ongeveer 600 van die 1 000 sake wat die Spesiale Ondersoek eenheid tans ondersoek, hou verband met tenderbedrog en kontrakte van meer as R9 miljard. In 360 gevalle is botsing van belange ’n element. Hierdie eenheid toon aan dat 20% van die Regering se begroting, wat verband hou met tenders, verlore gaan as gevolg van korrupsie. Hierdie inligting van die Spesiale Ondersoek eenheid bevestig dat dit maar net die punt van die ysberg is. Sou korrupsie in die kiem gesmoor word, sou ekstra belastings, soos toltariewe, nie nodig wees nie.

In baie Afrika- en ander lande word min of geen weerstand teen korrupsie aanvaar as deel van landsbestuur. In Suid-Afrika is dit belangrik dat die stryd teen korrupsie met deurlopende ondersoeke van adv. Madonsela, met media-onthullings en vrae van die VF Plus en ander opposisiepartye in die parlement voortgesit word ten einde te voorkom dat ons ook so eindig.

Die VF Plus se puntetoekenning aan die ANC vir korrupsiebestryding is 4/10 vir 2011.

4. Beplanningskommissie

Die nasionale beplanningskommissie se ontwikkelingsplan vir Suid-Afrika (’n visie vir 2030) is een van die omvattendste strategiese planne wat die laaste paar jaar deur die regering voortgebring is.

Positiewe

Die beplanningskommissie se plan is nie, soos sy voorgangers, deur ’n klomp staatsamptenare met ’n vooropgestelde politieke ideologie opgestel nie. Dit is die gevolg van 18 maande se intensiewe navorsing deur kundiges in die land oor wat nodig is om Suid-Afrika ’n wenland te maak.

Die dokument, van 430 bladsye, is nie bang om kernprobleme aan te spreek nie en dit gee ’n omvattende ontleding van die land se uitdagings. Byvoorbeeld:

Dat die ANC se beleid van kader-ontplooiing gelei het tot ’n verswakte staat met ’n staatsdiens wat nie regerings­beleid doeltreffend kan toepas nie. Dít moet vervang word deur ’n merietegegronde staatsdiens;

Dat korrupsiebestryders, soos die spesiale ondersoekeenheid en die openbare beskermer, onder­gefinansier en onderbeman is en deur wetgewing teen politieke inmenging beskerm moet word;

Dat arbeidswetgewing werkskepping in die wiele ry, dat onsekerheid oor mynregte beleggers afskrik en dat Suid-Afrika se staatsdiens en infrastruktuur dringend aandag nodig het.

Negatiewe

Die beplanningskommissie staan buite die regering in ’n raadgewende hoedanigheid, wat beteken die regering hoef nie die voorstelle te aanvaar of toe te pas nie.

Sommige elemente binne die ANC, en spesifiek binne die regerende alliansie met Cosatu en die SAKP, verskil met die voorstelle en beplan om dit ernstig teen te staan.

Die VF Plus se puntetoekenning aan die ANC vir die beplanningskommissieverslag is 7/10 vir 2011.

5. Regspleging

Die onafhanklikheid van die howe en die skeiding van magte tussen die Uitvoerende- en die Regterlike gesag is van die belangrikste boustene van ’n regstaat en ‘n effektiewe demokrasie. Uit verskeie uitsprake van President Zuma en die Minister van Justisie, mnr. Jeff Radebe, is dit duidelik dat die transformasie van die howe en die regstelsel ‘n prioriteit van die ANC regering is. In 2010 het die VF Plus gewaarsku dat die ANC se doelwitte hiermee onduidelik is en juis daarom het dit rooiligte laat aangaan. Gedurende 2011 het die ANC se doelwitte in hierdie verband meer duidelik geword en is die VF Plus reg bewys deurdat transformasie gebruik word om die onafhanklikheid van die regstelsel aan te tas.

5.1 Die aanstelling van Hoofregter Mogoeng Mogeng.

Die aanstelling het in groot omstredenheid plaasgevind. Hoofregter Mogoeng Mogoeng is ’n relatief junior regter in die Grondwetlike Hof. Dit is algemene kennis dat daar meer senior en ervare regters soos Regter Moseneke en andere was wat deur President Zuma oor die hoof gesien is. Daar het ook groot vraagtekens oor die konsultasieproses tydens hierdie aanstelling ontstaan. Die vraag was tereg gevra of die President, anders as wat die grondwet van hom vereis, werklik met opposisieleiers konsulteer voordat hy enige aanstelling maak. Die indruk is dat hy op ’n naam besluit en daarna ’n skyn konsultering doen.

5.2 Die oënskynlike aanslag op die Grondwetlike Hof.

Daar vind al meer onheilspellende uitsprake plaas wat indruis teen die onafhanklikheid van die regbank en in besonder die Grondwetlike Hof. Selfs Pres. Zuma het nie geskroom om te sê dat die Grondwethof deur minderhede en opposisie partye gebruik of misbruik word indien hulle nie hulle sin demokraties kan kry nie. Hierdie opmerkings, saamgesien met die ANC regering se sogenaamde “navorsing” wat hulle oor die Grondwethof se uitsprake wil laat doen, laat talle rooi ligte aangaan. Dit lyk al te veel na die bymekaar maak van ammunisie om die Grondwethof se tande te trek.

5.3 Die wetsontwerp op die Beskerming van Inligting.

Die regering se onversetlike voortstorm met hierdie ongelukkige wetsontwerp, ten spyte van ongekende teenkanting, dui op ’n onversetlike ANC regering wat kalwe aan die hoekstene van ons demokrasie. Die ANC regering weet hoe belangrik ‘n onafhanklike regbank en vrye media in ’n demokrasie is maar volhard hiermee.

Die ANC regering het duidelike die Grondwethof en die regbank in hulle visier. Die Grondwethof is ’n kern instelling ter beskerming van die Grondwet en die staatkundige orde. Duidelik is die ANC regering van mening dat hierdie hoeksteen van ons staatsbestel ook onder ANC beheer gebring moet word. Dit moet ten alle koste vermy word.

In die lig van bogenoemde, het VF Plus dit billik geag om ’n punt van 3 uit 10 aan die ANC regering ten opsigte van die regspleging toe te ken.

6. Ekonomiese groei en werkskepping

Positiewe.

6.1 Dissipline: Die indruk is dat die vorige minister van Finansies, Mnr. Trevor Manuel, sowel as die huidige minister van Finansies, Mnr. Pravin Gordhan, hulle bes doen om Suid-Afrika se openbare finansies gesond te bestuur en ekonomiese dissipline terug te bring.

6.2 Provinsies: Vir die eerste keer is die regering bereid om in te gryp in provinsies waar wanbestuur, korrupsie en vermorsing aan die orde van die dag is.

Negatiewe.

6.3 Werkloosheid: Werkloosheid bly ’n baie ernstige probleem met ingrypende gevolge vir almal. Die regering misluk in sy pogings om dit aan te spreek.

Van die hoofredes vir die mislukking is ’n rigiede arbeidsmark, wanbesteding, sluipbelastings en korrupsie in die openbare sektor.

Dit is duidelik dat die Suid-Afrikaanse ekonomie nou ’n swaar prys begin betaal vir rigiede minimumlone, oormatige beskerming van werknemers teenoor werkloses, en ander diskriminerende beleidsrigtings, soos regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging wat minderhede, veral wittes, uit die arbeidsmark hou.

Die IMF het onlangs aangedui dat die onbuigsame arbeidsmark Suid-Afrika se grootste struikelblok vir groei is. Teen die agtergrond is dit verblydend om te verneem dat die ministers van finansies en arbeid die arbeidsregime gaan ondersoek vir moontlike hervorming. Dit skep die geleentheid om daadwerklik te begin praat van die uitfasering van diskriminerende maatreëls in die arbeidsmark.

6.4 Belasting: ’n Verdere struikelblok vir ekonomiese groei is die stygende en groeiende vorme van belasting. Verskeie akademici het aangetoon dat Suid-Afrikaners alreeds soveel as 60% van hulle inkomste aan belasting betaal wanneer alle direkte en indirekte belastings in ag geneem word. Die las word steeds swaarder met die toevoeging van sluipbelastings, soos tolhekheffings. Daarbenewens word ’n ongesonde deel van belastings spandeer om 15 miljoen mense op welsyntoelaes te ondersteun. Die situasie is onvolhoubaar gegewe die feit dat net sowat 5 miljoen mense uit 50 miljoen belasting betaal. Daarom sal die ministers van finansies en arbeid vinnig moet werk maak daarvan om die arbeidsmark te dereguleer ten einde entrepreneurs vrye teuels te gee. Alleenlik dan sal die ekonomie groei en werk skep.

6.5 Buitelandse beleggings: Die Walmart-Massmart hofsaak verwar buitelandse beleggers en stuur negatiewe seine aan die buiteland oor die Suid-Afrikaanse ekonomie. Waar Suid-Afrika in die verlede die meeste buitelandse beleggings in Afrika getrek het, is dit tans Angola. Angola het $10 miljard teenoor Suid-Afrika se $1,6 miljard ontvang.

6.6 Transnet pensioenfonds: Die weiering van Transnet en die tesourie om die Transnet pensioenfondse volledig aan te vul, soos per opdrag deur die parlement, is skandalig. Dit is skandalig veral in die lig van die hoë bonusse wat die Transnet topbestuur aan hulleself toeken. Die benarde situasie van die Transnet pensioenarisse, wat ’n openbare onderneming soos Transnet opgebou het, is ’n toonbeeld van die wanbestuur van en gebrek aan morele prioritisering deur die regering.

Teen hierdie agtergrond is die VF Plus se puntetoekenning aan die ANC vir ekonomiese bestuur 4/10 vir 2011.

7. Taal- en kultuurregte

7.1 Nasionale Taalwet.

Positiewe

Meer as 14 jaar nadat dit ’n grondwetlike vereiste geword het dat die regering ’n nasionale taalwet moet aanvaar, is ’n wetsontwerp uiteindelik hieroor aan die parlement voorgelê.

Die taaleenheid in staatsdepartemente moet ingevolge die wetsontwerp die “gelyke behandeling en dieselfde aansien” van al die land se 11 landstale bevorder.

Negatiewe

Die wetsontwerp is nie ’n ANC prestasie nie maar die gevolg van ’n hofbevel deur regter Ben du Plessis in die hooggeregshof in Pretoria in Maart 2010 dat die regering die bepalings van art. 6(4) van die Grondwet in verband met die inwerkingstelling van ’n taalwet moet nakom. Die parlement moet die wet voor 15 Maart 2012 aanvaar.

Die konsepwet het nog baie probleme en voldoen volgens die VF Plus steeds nie aan die Grondwet se vereistes nie.

7.2 Geografiese name.

Elke jaar is daar nuwe hofsake, betogings en gevegte oor naamsveranderinge. Omdat daar geen afsnydatum vir hierdie tipe veranderinge is nie, gaan naamsveranderinge nou al vir 17 jaar op hierdie onbevredigende wyse aan. Dit raak kiesers regstreeks.

Hierdie jaar is die name van Louis Trichardt en Nelspruit verander na Makhado en Mbombela. Op dieselfde wyse is verskeie ander dorpe se name verander. In Bloemfontein verander die ANC ’n groot aantal bekende historiese straatname (byvoorbeeld Andries Pretoriusstraat na Raymond Mhlaba-straat en Paul Krugerlaan na O.R. Tambo-laan) en die DA doen dieselfde in Kaapstad.

Die VF+ het geen beswaar indien geboue, plekke, strate ens. vernoem word na persone wie in die verlede oorgesien en nie erkenning geniet het nie.

Waarteen die party wel beswaar maak, is die obsessie van die kant van beide die ANC en die DA – waar hulle ook al regeer, om die geskiedenis van Suid Afrika te probeer oorskryf volgens hul huidige subjektiewe oordeel. Die Anglo-Boereoorlog, kolonialisme, die slawetydperk, apartheid, ens. word almal sondebokke gemaak. Die vraag is – wie bepaal die sonde-graad van welke periode en sy persoonlikhede?

President Paul Kruger het gesê: “Behou die goeie uit die verlede en bou daarop die toekoms!” Hierdie land is oor 350 jaar opgebou tot die ekonomiese reus wat hy in Afrika is met infrastruktuur waaruit geslagte vorentoe nog lank sal voordeel trek. Alles wat gedoen was in die verlede was nie noodwendig foutloos nie maar definitief ook nie sonder positiewe resultate nie.

Die resultaat: Die ANC misken die diverse samestelling van Suid Afrika se verskeidenheid van gemeenskappe. Hulle maak ’n ongevoelige en doelbewuste inbraak op die geskiedenis en kultuurgoedere van talle gemeenskappe soos byvoorbeeld die Afrikaner deur die blatante miskenning van die positiewe bydrae van leiers en helde van weleer.

Die VF Plus standpunt is: Voeg by sonder om weg te neem!

Nooddienste wat adresse soek kla deurlopende oor die talle nuwe strate en woonbuurtes wat geen name het nie. Vernoem geboue, plekke, strate ens. ook na diegene wie nie erkenning gekry het nie, maar moenie bestaande name vervang bloot vir kort termyn party politieke gewin nie. Ons moet hier ook streef na ’n wen-wen situasie as ons eerlik en opreg is dat Suid Afrika aan al sy mense behoort.

Die VF Plus ken die ANC regering ’n punt van 4/10 toe.

8. Slotsom

Samevattend is die volgende punte toegeken:

Misdaadbekamping
3

Algemene korrupsie
4

Beplanningskommissie
7

Regspleging
3

Ekonomiese groei
4

Taal- en kultuurregte
4

Dit blyk dus uit bogenoemde evaluasie dat die ANC vanuit die oogpunt van die deursnee VF Plus-kieser vanjaar ’n gemiddelde punt van 42% vir sy vertoning ten opsigte van beleid behaal het.

Die VF Plus bly verbind tot ’n Suid-Afrika wat ruimte bied aan almal. Die party sal in 2011 – soos in die jare tevore – verbind bly tot die konstruktiewe aanlê van gesprek waar dit kan en die mobilisering van opposisie en weerstand waar dit moet.