Subscribe by Email

Verwyder plaasmoordenaars permanent uit samelewing

plaasmoorde

plaasmoorde

“Die wyse waarop Van der Merwe se liggaam agter ‘n voertuig gesleep en vermink is, onderstreep hierdie mense se barbarisme” aldus André Botha voorsitter van Agri SA se Landelike Veiligheidskomitee in reaksie op die mees onlangse plaasmoord. Die flinke optrede van die boeregemeenskap en die polisie se ondersoekbeamptes van Lichtenburg het gelei tot die spoedige arrestasie van drie verdagtes wat verdink word van die moord op André van der Merwe, ‘n boer van Ottosdal oor die naweek. Borg is in die hof aan die verdagtes geweier en die saak is uitgestel tot 10 Mei 2011.
Botha, sê dat, “moordenaars soos dié, is barbare wat met haat en wreedheid onskuldige boere teiken en vermoor. Hy vra wat het van medemenslikheid in Suid-Afrika geword as die samelewing moordenaars soos dié in hulle eie geledere verdra. Dit het nou tyd geword dat hierdie tipe mense permanent uit die samelewing verwyder word”.
Volgens inligting was die optrede van die polisie van Ottosdal wat die tonel besoek het onprofessioneel en het getuig van ‘n traak my nie-agtige houding. Sake wat in die verlede deur boere by die polisiestasie aangemeld is, is klaarblyklik ook selde na behore ondersoek en opgelos. Agri SA dring daarop aan dat die polisie se optrede na die moord ondersoek word asook hulle vermoë om die totale gemeenskap van Ottosdal van ‘n professionele diens te voorsien.
“Onverantwoordelike uitsprake deur politieke leiers soos die wat onlangs deur Julius Malema gemaak is, naamlik dat boere afstand moet doen van hulle grond sodat hulle nie meer aangeval sal word nie, is uiters onverantwoordelik en skep weereens ‘n klimaat by die oningeligte massa dat wreedaardige aanvalle op kommersiële boere geregverdig sal wees. Dié uitsprake is onverantwoordelik en moet met minagting verwerp word. Agri SA verwag van die regering om stappe te neem teen persone wat hierdie uitsprake maak”, sê Botha.
Die regering maak staat op die landbousektor om werksgeleenthede te skep en= die ekonomie van die platteland te stimuleer. “Indien daar nie nou ‘n veiliger plattelandse gebied verseker kan word nie, sal ons nie hierdie ideale bereik nie en sal almal wat ‘n heenkome hier vind verder benadeel word. Die spoedige implementering van die Landelike Beveiligingstrategie ondersteun met die nodige hulpbronne moet nou ‘n prioriteit by die polisie word”, het Botha ten slotte gesê.