Subscribe by Email

Versoeningsdag: ANC moet appèl teen dubula ibhunu laat vaar

“Ons doen ‘n beroep op die ANC om Versoeningsdag môre te benut om aan te kondig dat die appèl teen die verklaar van die lied, dubula ibhunu, as haatspraak onttrek word,” sê ds. Theunis Botha, leier van die Christen-Demokratiese party (CDP).

“As die ANC rug styfmaak om te bly veg om die lied wat onmeetbare polarisasei in die land veroorsaak het te kan sing, sal enige deelname van dié organisasies aan Versoeningsdag ‘n klug wees.

“Daar kan geen twyfel wees nie dat Julius Malema se sing van die lied en die ANC se besluit om hom juridies hierin te ondersteun die land erge skade berokke het nie.

“Ongelukkig is dit ook nie die enigste saak wat polarisasie verskerp het nie. Pres. Jacob Zuma se volgehoue blatante aanwending van godsdiens vir politieke doeleindes waar hy klaarblyklik die Here as politieke instrument inspan, gee ook aan baie aanstoot.

“Ons doen ‘n beroep op die mense van Suid-Afrika om Versoeningsdag as belangrike stap te beskou in die aanloop na Kersfees waar die gebod van naasteliefde met liefde vir God volledig gemaak word. Elke dag behoort ‘n versoeningsdag te wees.

“Vir die Afrikaners wat Geloftedag gedenk, is ons bede dat onthou sal word dat die Gelofte nie los staan van die Nuwe Verbond nie, waar Christene in ‘n Verbond met die Here tree om Sy Koninkryk te dien.”