Subscribe by Email

Verlore Christenstad Hira in Irak gevind?

Volgens oorlewering het die apostel Paulus na Jesus se kruisdood sendingwerk in die Ooste gaan doen, en selfs ‘n Cristengemeenskappie wat deur die ontdekkersreisigers in Indië aangetref is, word volgens dié oorleweringe aan Thomas verbind.

Wat wel bekend was, was dat die Christendom voor die opkoms van die Islam goed in die suide van Irak gevestig was, met die legendariese stad Hira as vernaamste sentrum.

Die moontlike herontdekking van Hira kom ironies te midde van die hernude viktimisasie van Christene in Irak na die Amerikaans-geleide inval. Van Irak se 1,4 miljoen Christene voor die oorlog is nou na raming net sowat 400 000 oor. Boonop is die ontdekking van die ruïnes in 2007 te danke aan die geestelike oplewing van die Sjiïtiese heilige stad, Najaf. Met die toeloop van pelgrims moes die lughawe uitgebrei word, en met die grondverskuiwingswerke is op die ruïnes afgekom wat oorblyfsels van ‘n kerk.

Van die fynste gekerfde kunswerk is in die mure te siene. Uit die uitgrawings wat die afgelope vyf jaar onder die sand na vore kom, maak van die wetenskaplikes die afleiding dat dit Hira moes wees.

Hira is in ongeveer 270 na Christus gestig, en het tot ‘n beduidende sentrum ontwikkel. Dit was na bewering ook die plek waar Arabiese skrif ontwikkel is. Vir eeue was Hira die sentrum van die Christendom in die ooste, en die kerk wat hieruit ontwikkel het word soms die Nestoriaanse Kerk genoem. Die moderne Assiriese Kerk van die Ooste het hieruit ontwikkel – ‘n vorm van Christenskap wat vandag nog in Irak en Sirië aanhang geniet.

Eeue na die verowering van die gebied deur die Islam het Christene en Moslems nog in vrede naas mekaar geleef, en Islam-historici verwys na die bestaan van 40 kloosters in die omgewing.

Die Moslem-heersers het egter die Christene begin vervolg, en hulle het die wyk geneem. Uiteindelik het dié Christenbolwerk onder die sand verdwyn.

‘n Christen-parlementslid, Younadam Kanna, sê egter die herontdekking van die eertydse Christenglorie stuur ‘n boodskap van hoop uit dat die Christendom in Irak nog eeue sal kan voortbestaan.

http://www.sfgate.com/world/article/Ruins-in-Iraq-could-be-Hira-3782003.php

Foto: AP